Galg spog met nuwe baadjie

Tanja Bause

Die galg op Hentiesbaai – met sy nuwe baadjie in die vorm van ’n groot kabeljou en visstok – is die naweek deur die burgemeester Lewies Vermaak onthul.

Die oorspronklike galg is in 1978 opgerig deur Frank Atkinson en Willie Cilliers, wat onderskeidelik in 1969 en 1971 hulself as van die eerste permanente inwoners van die dorp gevestig het. Die dryfhout met ’n stukkie tou aan die einde het as ’n kennisgewing gedien dat vakansiegangers hulle van rommelstrooiing moet weerhou.

Die waarskuwing aan morsjorse het vir 42 jaar op sy plek gestaan tot dit in 2020 aanstoot gegee en op sosiale media vir onmin gesorg het. Aktiviste het gemeen die galg is ’n simbool van ’n pynlike verlede van rasse-onderdrukking en het geëis dat dit verwyder moet word.

VLEKVRYE STAAL

Koppe is bymekaar gesit en die kunstenaar Chris Snyman is opdrag gegee om die nuwe baadjie vir die galg te skep waarmee almal gelukkig kan wees en wat ’n toeriste-aantreklikheid kan wees.

Snyman het ’n paar maande aan die vis van 2,8 meter hoog gewerk.

Die vis is geskep uit stukke vlekvrye staal wat weggegooi is. Dit moes vlekvrye staal wees om die weerkorrosie aan die kus te weerstaan.

Snyman was ook verantwoordelik om die visstok te maak. Hy het gesê die stok se buiging moes sodanig wees dat ’n denkbeeldige vislyn na die vis se bek lei, wat op ’n sementpodium gemonteer sal word wat die golwe van die oseaan uitbeeld.

’n Gedenkmuur wat die geskiedenis van Hentiesbaai opsom, asook ’n kaart met die gewildste hengelplekke en die dorpsgebied, is ook soos golwe gevorm.

Die munisipaliteit het N$20 000 tot die projek bygedra en Hentiesbaai Toeristevereniging ’n bykomende N$20 000.

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer