Gondwanaland Geopark
Gondwanaland Geopark

Nuwe momentum vir Namibië se geopark

Bewaring
Ellanie Smit
’n Hoëvlak delegasie het die week ’n uitstappie is na die beplande Gondwanaland Geopark onderneem, wat geproklameer gaan word sodra die nodige wetgewing in plek is.

Die geopark beslaan ’n oppervlak van ongeveer 60 000 km² in sentraalwes-Namibië. Dit val binne drie administratiewe streke (Kunene, Erongo en Otjozondjupa), agt kommunale bewaringsgebiede asook groter nedersettings soos Karibib, Usakos, Omaruru, Uis en Khorixas.

Die delegasie van 40 lede bestaande uit politikusse, regeringsbeamptes en private organisasies het verskeie plekke in die Erongo en Kunenestreek besoek wat binne die geopark se gebied val. Hulle het onder meer die Spitzkoppe, Brandberg, Twyfelfontein, die Versteende Woud, die Damara lewendige museum en die orrelpype besoek.

’n Geopark is ’n gebied aangewys deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) wat een of meer terreine van besondere geologiese belang bevat, wat bedoel is om die geologiese erfenis te bewaar en openbare bewustheid daarvan te bevorder, tipies deur toerisme.

Volgens ’n konsepnota oor die geopark wat hierdie week gepubliseer is, is die geopark-projek aanvaar vir insluiting in die gesamentlike program oor volhoubare kultuurtoerisme in Namibië van die millennium ontwikkelingsdoelwitte-prestasiefonds (MDGF) in 2010.

Vier aktiwiteite is onderneem ter voorbereiding van toekomstige proklamasie wat die samestelling van riglyne vir die bestuur van die geopark, die ontwerp van korporatiewe identiteit en tekste vir inligtingsborde vir die geopark en vervaardiging van promosiemateriaal, die ontwerp van opleidingsmateriaal vir toekomstige toergidse en die argitektoniese ontwerp vir ’n inligtingsentrum en voorsiening van infrastruktuur vir die verkoop van minerale deur kleinskaalse mynwerkers ingesluit het.

“Voordat ’n geopark by die Unesco Globale Geoparks kan aansluit, moet dit as ’n Nasionale Geopark geproklameer word.

“Dit word dus in die vooruitsig gestel om die geopark ingevolge artikels 20 en 21 van die wetsontwerp op die bestuur van natuurlewe en beskermde gebiede te proklameer, sodra dit afgekondig is.”

Die konsepnota sê egter die projek word vertraag, aangesien die relevante wetgewing steeds nie in plek is nie.

“Nietemin word verwag dat die wetsontwerp, ná herhaalde hersiening, in die nie te verre toekoms bekragtig sal word. Daarom word dit as gepas beskou om goed voorbereid te wees om aansoek te doen vir ’n proklamasie kragtens die genoemde wetsontwerp sodra dit ’n wet word.”

Juis ter voorbereiding op die bogenoemde aansoek en daaropvolgende proklamasieprosesse, is die “hoëvlak-uitstappie” na die beoogde Gondwanaland Geopark-gebied beplan. Die hoëvlak-amptenare van die parlementêre staande komitee op Natuurlike Hulpbronne, die Nasionale Raad, politici, senior bestuursamptenare, die Erongo- en Kunene-streekgoewerneurs en die Geopark tussentydse taakmaglede is aan die Gondwanaland Geopark-area blootgestel.

Die uitstappie was daarop gerig om die deelnemers toe te rus met voldoende kennis oor die waarde van die geopark, insluitend sy kulturele, omgewing- en geologiese erfenis.

Nog ’n strewe was om die deelnemers beter begrip te gee van die verskillende kenmerke van die Gondwanaland Geopark-area, asook van die die behoeftes van die belanghebbendes soos bewaringsgebiede, tradisionele owerhede, toerisme-operateurs en kleinskaalse mynwerkers oor landskapbestuur en bewaring.

Die gebied van die voorgestelde geopark huisves ’n wye verskeidenheid geologiese besienswaardighede – wat wissel van skouspelagtige berge, vulkaniese kenmerke en sedimentêre strukture, tot halfedelgesteentes en paleontologiese terreine. Vir die mineraalversamelaars is dit ’n gebied wat die moeite werd is om te besoek, en die gebied het ’n ryk myngeskiedenis.

Vanweë die yl plantegroei in die droë omgewing is die geologiese kenmerke geredelik sigbaar en word beskryf as ’n storieboek van die aarde se geskiedenis.

[email protected]

Kommentaar

Clement Dunaiski 2 Jaar Gelede 14 May 2022

Hoop dit sal die Chinese marmer myning beperk en beter paaie meebring.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!