Prag-waatlemoene, geen kopers
Die plaaslike mark vir waatlemoene is glo só oorvol dat niemand meer waatlemoene soek nie, selfs nie eens gratis nie, vertel produsente.
’n Waatlemoen-boer se opgewondenheid oor wat vanjaar ’n bogemiddelde oes van pragtige, soet waatlemoene sou wees, het gou in ontnugtering ontaard omdat sy nie ’n afset kon kry nie.
Inteendeel, die plaaslike mark is só oorvol dat niemand meer waatlemoene soek nie, selfs nie eens gratis nie, vertel Babette Taljaard, ’n jong groenteprodusent wat in die Grootfontein-omgewing boer.
“Ek het regtig ’n probleem. Ek verwag om 3 750 waatlemoene te oes. Dit is ongeveer 75 ton per hektaar. In die stadium wens ek eintlik ek kon minder geoes het, want die goed raak vrot in die land,” het Taljaard gister aan Republikein vertel.
“Daar is nog ’n klomp waatlemoene oor wat ek by honger monde moet uitkry, wat in die stadium van die geveg moeilik is, want die mark is oorvol.
“Gister [Dinsdag] het ek ’n bestelling gehad en toe gaan lewer ek af. Toe ek by die mark op Tsumeb kom, wou hulle dit nie hê nie. Hulle het vir my gewys hulle het waatlemoene van so groot as 13 kg vir N$25 gekoop.
“Dit is belaglik, vir daardie prys eet ek liewer alles self op,” sê Taljaard.
FORMELE MARK
Sy sê haar pogings om aan groot handelaars te lewer, was nie suksesvol nie.
Sommige antwoord nie eens haar navrae nie en ander groot winkelgroepe het streng vereistes, wat baie moeilik, indien nie onmoontlik is om na te kom nie.
“Soms kla die einste handelaars daar is nie plaaslik van die produkte beskikbaar nie. As jy by hulle wil aansluit, dan sê hulle hulle het reeds te veel produsente, hulle neem nie nuwes in nie.”
Taljaard sê ’n ander winkelgroep was bereid om haar grootste waatlemoene vir N$15 aan te koop.
“Ek het die aanbod van die hand gewys. Dit is steel,” meen sy.
Sy sê vroeg in die waatlemoenseisoen, toe daar nog min van dié vrug op die mark beskikbaar was, het sy waatlemoene vir tot N$205 op winkelrakke gesien.
Verskeie produsente is tans in dieselfde bootjie as Taljaard.
“Ons weet nie meer waarheen nie. Ons is nie eens so baie boere wat plant nie en ons plant nie so groot nie,” het sy gesê.
“Ek het aanvanklik so 3 000 saailinge uitgeplant, maar ’n goeie getal waarop ek kan werk, is so 2 500 waatlemoen-saailinge.
“Elke plant lewer gemiddeld 1,5 waatlemoene, wat beteken ek behoort ’n gemiddeld van 3 750 waatlemoene oor ’n tydperk van drie tot vyf weke te oes. Ek trek nou eers by week twee en ek het al 1 711 waatlemoene geoes.”
NIE DIE EERSTE KEER
“Ek wil eintlik uit groenteproduksie kom, ek is moeg daarvoor om nie my produkte verkoop te kry nie.”
Sy sê sy het vantevore ook gesukkel om ’n mark vir haar kool te kry.
“Die mark was ook oorvol en nadat ek mark toe was, moes ek maar weer huis toe kom met die goed en dit in die komposhoop inwerk of iets,” het sy gesê.
Taljaard versorg haar groentelande nougeset en met baie aandag en liefde.
“Ek pas presisieboerdery toe en sit moeite in om te sorg dat die plante gesond is, want dan kan jy op ’n kleiner stukkie grond net so veel oes as iemand op ’n groter stuk grond,” vertel sy.
Sy sê daar is niks wat sy daaraan kan doen as sy nie haar koste kan dek nie.
“Die kunsmis is vreeslik duur en raak net al hoe duurder. Dit wat ons by die mark moet kry, raak net soveel meer, maar die pryse bly al vir baie jare dieselfde. Inteendeel, dit daal,” sê sy.
“Dit is moeilik om die koste te verhaal. As ek nie ten minste gelyk kan breek nie, help dit nie om daaroor te huil nie. ’n Mens moet maar aangaan en jou geloof moet sterk wees,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie