PstBet verstewig bande met boks

Boks
Tielman Van Lill
PstBet het gister sy gewig met ’n stewige N$2.7 miljoen by die MTC Nestor Sunshine Tobias-boksakademie ingegooi wat oor drie jaar strek.

Met N$900 000 per jaar bykomend tot Tobias se beskikking, behoort dié internasionale promotor heelwat meer topklas toernooie te kan aanbied as wat tydens ’n insinking oor die onlangse maande die geval was.

Tobias was uiteraard in sy noppies by gister se bekendmaking.

“PstBet is reeds vir ’n jaar by ons betrokke en ek ontvang die borgskap met ope arms. PstBet is ’n gerespekteerde handelsmerk en daarom laat MTC toe dat PstBet ons ondersteun. PstBet kan verseker wees dat hul belegging goeie vrugte sal afwerp.

“Van nou af gaan ons boks plaaslik asook internasionaal tot die volgende vlak neem. Maak nie saak waar in die wêreld ons gaan boks nie, PstBet sal deurgaans erkenning kry.

“Ons doel is om meer Namibiese wêreldkampioene te kweek en daarom is PstBet ’n belangrike toevoeging tot die MTC Nestor Sunshine Tobias-boksstal.

“Ons moes vandag eintlik al in Australië gewees het vir Fillipus (Energy) Nghitumbwa se geveg teen Luke Boyd in die superkapokgewigklas wat veronderstel was om op 15 Maart plaas te vind. Maar met Boyd beseer en die geveg van die baan, is ons besig om elders in die wêreld ’n teenstander vir Energy te soek en sal die geveg binnekort aankondig.

“Ons is ook reeds besig om die volgende plaaslike bokstoernooi te beplan,” het Tobias gesê.

Energy en Boyd sou vir drie titels deur die toue klim – die Interkontentinale gordel van die Internasionale Boksfederasie (IBF), die Oseanië-kroon van die Wêreldboksvereniging (WBA) en die Gobale titel van die Wêreldboksorganisasie (WBO) .

Steve Hamunyela, stigter en hoofbeampte van BstBet, het gesê: “Borgskappe is ’n groot deel van PstBet se strategie en is noodsaaklik om ons handelsmerk plaaslik te help ontwikkel.

“Ons skep goeie verhoudings en vennootskappe met klubs, spanne en mense vir wie ons borg. Ons stel nie daarin belang om bloot ons handelsmerk op advertensiebord of hemde te plaas nie – ons is hier vir die liefde van sport.

“PstBet is trots om ons naam op die hemde van hierdie erkende boksakademie in Namibië te sien. Dié vennootskap gee ons groot blootstelling wêreldwyd en terselfdertyd bemagtig dit jeugdiges wat baie talentvol is en in boks belangstel.

“Dis PstBet se topprioriteit om in sy korporatiewe maatskaplike verantwoordelikhede te belê. Ons is trots om die hoofborg van Civics-sokkerklub te wees wat in die Debmarine Namibiese Premierliga speel.

“PstBet is ook ’n trotse borg van die Windhoek-kultuurfees, Khuse Lion-sokkerklub asook die o.20-sokkerspan van die Ohangwena-streek.

“Ons is trots daarop om die eerste en toonaangewende sportweddenskapmaatskappy in Namibië te wees met meer as 500 werknemers in ons diens.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!