Die tantaalprojek van US$10 miljoen (N$189,7 miljoen) sal na verwagting sowat 200 werksgeleenthede skep. Foto arcadiaminerals
Die tantaalprojek van US$10 miljoen (N$189,7 miljoen) sal na verwagting sowat 200 werksgeleenthede skep. Foto arcadiaminerals

Bondelswarts gee hul misnoeë te kenne

Ontevrede met uitlatings oor misbruik
'n Mynbouprojek in die suide van die land vorder goed met infrastruktuur en 'n pad na die nuwe mynperseel.
Augetto Graig
Die voorsitter van die Bondelswarts-erfenisstigting, Mathew Veldskoen, het onlangs sy misnoeë aan die minister van myne en energie, Tom Alweendo, uitgespreek.

Dit ná uitlatings wat die uitvoerende hoof van die Swanson-tantaal-mynprojek naby Warmbad, Philip le Roux, glo gemaak het. Die projek is sowat 15 km van die Oranjerivier geleë.

Veldskoen is ontevrede dat Le Roux – tydens ’n onderhoud met ’n plaaslike koerant – na bewering gesê het dat alkohol- en dwelmmisbruik onder die Bondelswarts-gemeenskap kommerwekkend is, en dat hulle nie geskik is om werksgeleenthede by die myn te beklee nie.

Die projek van US$10 miljoen (N$189,7 miljoen) beoog om teen volgende jaar die myn te bou en sal na verwagting sowat 200 werksgeleenthede skep.

“Dit is veral ontstellend dat die Swanson-tantaalprojek, wat voorheen belowe het om die plaaslike gemeenskap te ondersteun deur 96 werksgeleenthede aan plaaslike inwoners te bied, nou neerhalende uitlatings teenoor dieselfde gemeenskap maak wat hul omgewingsklaringsertifikaat ondersteun het.

“Die maatskappy moes die kwessies van dwelm- en alkoholmisbruik in die gebied getakel het, in plaas daarvan om onsensitiewe uitlatings te maak. Hulle uitlatings is onmenslik, neerhalend en diskriminerend, en dit is teen die beginsels van gelykheid en regverdigheid,” het Veldskoen aan die minister geskryf.

Volgens Le Roux het die streng dwelm- en alkoholregulasies wat op toekomstige werknemers van toepassing is, slegs ’n klein gedeelte van die onderhoud uitgemaak, wat meestal gefokus het op besonderhede van die mineraalpotensiaal van die mynlisensie (ML223).

“Die maatskappy beskou die gesondheid en veiligheid van al sy werknemers – ongeag hul oorsprong, ras of geloof – as uiters belangrik vir ons bedrywighede.

“Soos enige ander verantwoordelike mynmaatskappy in Namibië, sal ons nie in staat wees om mense in diens te neem wie se verstandelike vermoëns om gevaarlike masjinerie te bedryf in gevaar gestel kan word as gevolg van bewyse van dwelm-, alkohol- of ander misbruik nie,” brei hy uit.

Dit beteken egter nie dat Swanson nie plaaslike mense wil aanstel nie. “Die Warmbad-gemeenskappe het opregte mense wat die beginsel van harde werk, ywer, dissipline, morele opregtheid en integriteit uitbeeld. Ek weet dit, want die maatskappy het reeds gedurende die jare van ons eksplorasie vyf lede van die gemeenskap permanent in diens geneem, en ek kan nie sien hoekom die maatskappy nie moet verwag dat sy toekomstige werknemers van soortgelyke kaliber moet wees nie,” sê Le Roux.

Verder sê hy die myn is op privaat grond geleë waarvoor die maatskappy ’n langtermyn-huurooreenkoms geteken het en nie op Bondelswarts-grond nie. Verskeie vergaderings is egter reeds met plaaslike gemeenskappe gehou, insluitend die Bondelswarts, sê hy.

Die goeie nuus is dat eksplorasie, ontdekking en die ontwikkeling van die lewensvatbaarheid voltooi is, en dat die finansiering vir die bou van die myn verseker is.

’n Pad na die nuwe mynperseel word gebou en toerusting wat lank vat om te verkry, is reeds bestel.

“Die tantalietgraad is 0,05% Ta2O5 en deur die erts op die terrein te verwerk, sal die graad tot 25% Ta2O5 styg. Dit is die produk wat ons (sal) verkoop. Die koste van ons verwerkingsaanleg beloop ongeveer N$180 miljoen.

“Slegs ’n paar plekke in die wêreld verfyn tantaal verder, wat almal in Duitsland, die Verenigde State van Amerika (VSA), die Midde-Ooste of China geleë is.

“Die oprigtingskoste van ’n raffinadery-aanleg word nog nie voorsien nie, behalwe as daar aan verskeie kritieke faktore voldoen word, soos dat ons die mineraalhulpbron aansienlik vergroot en kapitaal van sowat N$5 miljard kan lok,” brei hy uit.

Die maatskappy is betrokke by gevorderde onderhandelinge met verskeie Europese maatskappye wat óf die produk verder verfyn óf wat potensiële eindgebruikers is, voeg hy by.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!