Die lot van Namibië se oues

Bejaardes dikwels hoof van huishoudings
Sowat 69% woon in tradisionele wonings en moet lang afstande aflê na gemeenskaplike waterpunte, die veld as toilet gebruik en hout kap en aandra vir kook en hitte.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Vier uit vyf bejaardes in Namibië wat pensioengeld ontvang, woon in landelike gebiede, dikwels in uiterste armoede en met geen of geringe toegang tot water, krag of toiletgeriewe.

Die meeste woon in Omusati, Oshana en Oshikoto, die tuiste van die land se armste inwoners.

Sowat 69% bly in tradisionele wonings, 8% in sinkhuise en in die meeste gevalle is hulle die oudste inwoner in die huishouding en die primêre versorger van kinders in die huis. Dit met ’n gemiddelde maandelikse inkomste van sowat N$1 000 en grootliks afhanklik van voedselhulp wat totaal onvoldoende is.

’n Verslag van die Family Caregiving Program – Older Persons and Community Care – skets ’n uiters donker prentjie van die land se senior burgers wat dikwels sukkel met toegang tot dienste soos pensioenuitbetalings weens ’n gebrek aan identiteitsdokumente of ’n gebrek aan vervoer na dienssentrums.

Die gemiddelde jaarlikse inkomste vir ’n bejaarde was volgens ’n opname N$12 565, wat sowat N$1 047 per maand is. Net 4% ontvang ’n salaris en/of ’n loon.

Namibië het meer as 200 000 bejaardes; dit is ’n toename van 40% in die laaste dekade.

Huishoudings met ouer mense het gemiddeld vyf persone, met tweederdes wat in ’n multigenerasie-huishouding woon. Die meeste bejaardes en wel vier uit vyf bly in landelike gebiede.

Bejaardes wat in informele nedersettings woon, ervaar reuse-uitdagings met geen toegang tot basiese dienste soos water, krag en sanitasie nie.

Hervestigings het volgens die verslag mense nog verder van gesondheids- en maatskaplike dienste geplaas wat veral ’n uitdaging vir bejaardes is.

Ouer mense moet gestremdhede en chroniese siektes bestuur, terwyl hulle vuurmaakhout vir kook en hitte moet versamel, water by ’n gemeenskaplike kraan of boorgat moet gaan haal, geen toiletgeriewe het nie en in die veld hul nood moet verlig.

Die skerp styging van 40% in die aantal bejaardes en die styging in nie-oordraagbare siektes (NCD’s) verhoog volgens die verslag die behoefte vir versorgingsdienste asook ’n verhoogde risiko vir gestremdhede wat deur NCD’s veroorsaak word, soos beroertes.

Die huishoudings van ouer mense is groot en in die afwesigheid van werk of ander maatskaplike veiligheidsnette, moet pensioentoelaes soveel meer doen en kan dit nie in die versorgingsbehoeftes van bejaardes voldoen nie.

Die verslag wys op hoë vlakke van voedselonsekerhede, met die kriteria vir bejaarde huishoudings vir voedsel- en droogteverligting wat baie onduidelik is.

Bejaardes het tydens onderhoude ook gevra dat uitbetalingspunte vir pensioene hersien moet word sodat dit meer toeganklik vir bejaardes in landelike gebiede is.

Die aantal bejaardes het in 2023 op 206 675 gestaan, wat 6,8% van die bevolking verteenwoordig. Die ongekende styging van 40% in die aantal bejaardes in Namibië plaas ook druk op nie net hulle nie, maar ook familielede en staatsdienste veral in gevalle waar hulle met chroniese siektes leef.

Tweederdes van bejaardes is vroue, terwyl Oshiwambo die meeste in huishoudings gepraat word, gevolg deur Kavango en Nama/Damara.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!