Droogtehulpgeld vir Ohangwena ‘verdwyn’

N$140 000 kontant skoonveld
Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat 'n groot bedrag verdwyn het wat vir vloedhulp geoormerk was.
Iréne-Mari van der Walt
Tuyeimo Haidula op Oshikango – Benewens die droogtehulpvoedsel ter waarde van N$600 000 wat verdwyn het, het die Ohangwena-streekraad ’n ondersoek van stapel gestuur na ’n vermiste N$140 000 kontant wat vir vloedhulp geoormerk was.

Ses werknemers wat glo droogtehulpvoedsel uit die Oshikango-pakhuis in die Ohangwenastreek gesteel het, het omtrent ’n week en ’n half gelede in die hof verskyn en hulle is gevolglik borgtog geweier. Die saak is tot 2 April uitgestel vir verdere polisieondersoeke.

Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat ’n groot bedrag ook verdwyn het wat vir vloedhulp geoormerk was, ’n verwikkeling wat die goewerneur van die streek, Sebastian Ndeitunga, ontstel het.

Ndeitunga het Donderdag aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê toe hy verlede jaar die leisels by Walde Ndevashiya oorgeneem het, het hy hom oor die vermiste N$140 000 – wat vir vloedslagoffers bedoel was – ingelig.

Hy het gesê hy het toe versoek dat ’n ondersoek van stapel gestuur word. Die polisie het vandeesweek ’n saak geopen.

Ndeitunga het gesê voorlopige ondersoeke toon dat die vermiste N$140 000 deel was van N$200 000 wat die Padfondsadministrasie (RFA) geskenk het toe die streek verlede jaar onder vloede gebuk gegaan het.

Hy het gesê die rekords het tot dusver getoon dat slegs items ter waarde van N$60 000 by die streekraad afgelewer is, met N$140 000 wat nie rekenskap voor gegee kan word nie.

Die geld is na bewering direk aan ’n maatskappy oorgeplaas waar vloedhulpitems teen ’n totale koste van N$199 772 gekoop sou word, het Ndeitunga gesê.

“Soos ek al voorheen gesê het, werk ons aanhoudend om te verseker die saak word so gou as moontlik opgelos. Ek het diegene by die streekraad opdrag gegee om behoorlik ondersoek in te stel en ek is ingelig dat hulle Maandag ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het. My kantoor sal nie die misbruik van openbare fondse, wat vir begunstigdes bestem is, duld nie,” het Ndeitunga gesê.

Ohangwena se hoofstreekbeampte, Fillip Shilongo, het gesê die transaksie is uitgevoer sonder die raad se goedkeuring.

Die streekraad het ’n vergadering met amptenare van die goewerneur se kantoor belê “om uit te pluis wat gebeur het”.

Sodra die ondersoeke afgehandel is, het Ndeitunga gesê die polisie sal die skuldiges in hegtenis neem en die publiek sal gevolglik ingelig word.

Die verdagtes in die droogtehulpsaak is as die 33-jarige Minna Uukule, Jeipo Delany Hilongwa (42), Nehemia Shoovaleka (36), Gerrie van Wyk (42), Fillemon Shikongo (44) en Simon Joseph (33) geïdentifiseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!