‘Dryftuig slegs vir navorsing’

Tanja Bause
Tanja Bause – Die eienaars van die Saildrone, ’n onbemande oppervlaktuig (USV), wat verlede Sondag sy opwagting in Lüderitz se hawe gemaak het, het ’n verklaring uitgereik.

Die Namibiese weermag het beslag op die USV gelê en dit onder streng bewaking na Windhoek vervoer.

Phil Balhao, raadslid van die Lüderitz-dorpsraad het Saildrone in Amerika genader en die hoofregsbeampte van die maatskappy in Washington, Karen Dacres, het op sy navrae gereageer.

Sy sê: “Die Saildrone SD-1067 is ’n wind- en sonkragaangedrewe USV wat mariene wetenskaplike navorsingsmissies uitgevoer het met die ondersteuning van die Universiteit van Gothenberg in Swede, die Universiteit van Suid-Florida, en die Amerikaanse Nasionale Wetenskapstigting in die Suidelike Oseaan. Die SO-CHIC (Suidelike Oseaan koolstof- en hitte-impak op die klimaat) is ’n vier jaar lange projek wat deur die Europese Unie befonds word en in November 2019 begin het.

“Die algehele doelwit van SO-CHIC is om die veranderings van hitte- en koolstof in die Suidelike Oseaan te verstaan en te kwantifiseer deur die sleutelprosesse wat uitruilings tussen die atmosfeer, oseaan en see-ys beheer, te ondersoek. ’n Kombinasie van waarnemings- en modelleringsbenaderings word gebruik om dié doelwit te bereik.

“Ongelukkig het die USV tydens die missie meganiese probleme ondervind en in die Namibiese Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EEZ) se rigting begin dryf. Die mense in beheer van die USV het probeer om dit na ’n veilige hawe te navigeer, in ooreenstemming met Saildrone se standaardbedryfsprosedures.

“In afwagting van ons binnedringing van die EEZ, het ek die Amerikaanse staatsdepartement op 8 Januarie 2023 daarvan in kennis gestel. Die staatsdepartement het op 9 Januarie vanjaar die toepaslike Namibiese owerhede via diplomatieke nota (dit word gewoonlik per veilige kabelgram gestuur) in kennis gestel.

“Ingevolge Saildrone se standaardpraktyk word alle sensors beveilig sodra die USV .5-seemyl van enige soewereine nasie se EEZ is. Dit beteken dat die USV se sensors afgeskakel was en geen see-, atmosferiese of fotografiese data ingesamel het terwyl dit deur die EEZ beweeg het nie.

Sy het afgesluit om te sê Saildrone se navorsingsmissie en bedrywighede was wettig en toelaatbaar en ons hoop dat die SD-1067 aan ons terugbesorg kan word.

Prof. Sebastiaan Swart verbonde aan die department mariene wetenskap van die Universiteit van Gothenburg in Swede het ook in ’n WhatsApp-boodskap aan Balhao gereageer.

“Die universiteit het ’n kontrak met Saildrone aangegaan waarin hulle ’n USV verskaf om wetenskaplike data in die Suidelike Oseaan suid van Afrika in te samel. Dit sluit oseaantemperatuur, soutinhout, CO2 en meteorologie in wat ons departement tydens ons oseanografiese navorsing gebruik.

“Die USV het die missie in die Suidelike Oseaan voltooi en was op pad Kaapstad toe. Ons missie is op 22 November voltooi en sedertdien het ons nie meer kontak met die USV gehad nie.

“Saildrone het ons in November ingelig daar ’n probleem met die roer ondervind word en hulle min beheer oor die USV gehad het. Dit het in Namibiese waters ingedryf. Dit was nie deel van die missie nie.

“Ek moet beklemtoon dat Saildrone slegs aanspraak maak op wetenskaplike waarnemings van die oseaan as deel van akademiese omgewingsnavorsing.”

Volgens die woordvoeder van Namibiese weermag (NDF), kolonel Petrus Shilumbu, het die weermag sedert 11 Januarie die USV in Namibiese waters gemonitor.

“Ons het geen idee gehad wat die USV se missie in ons waters was nie. Daar is nooit vir ’n klaringsertifikaat aansoek gedoen nie. Ons is nie van die USV in ons waters in kennis gestel nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer