Gebrek aan bemagtiging van Afrika se vroue

Beduidende geslagsgapings bestaan
Alhoewel 'n groot deel van Afrika suid van die Sahara die afgelope 20 jaar vinnige ekonomiese groei ervaar het, ly die streek steeds onder hoë armoedesyfers en langdurige ontwikkelingsuitdagings, soos 'n tekort aan infrastruktuur en geskoolde arbeid, asook swak bestuur.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Oraloor Afrika suid van die Sahara is daar beduidende geslagsgapings in werksgeleenthede en toegang tot finansiële hulpbronne.

Vroue se gebrek aan ekonomiese deelname en bemagtiging is struikelblokke tot hul maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling.

Dit is veral vroue in Afrika wat daagliks diskriminasie op die meeste vlakke in die gesig staar, met diegene wat in landelike gebiede woon wat dikwels die uitdagendste omstandighede moet trotseer.

Die ekonomiese bemagtiging van vroue is noodsaaklik om geslagsongelykheid te verminder – sonder dit het vroue nie die hulpbronne om onafhanklik en selfstandig te wees nie.

Gapings tussen mans en vroue met betrekking tot werksgeleenthede en inkomste het gewys dat dit ekonomiese ontwikkeling op die vasteland beduidend kortwiek. ’n Voorbeeld is die feit dat die Verenigde Nasies (VN) in 2019 beraam het dat Afrika suid van die Sahara jaarliks US$95 miljard weens die gaping tussen die geslagte in die arbeidsmark verloor.

Die ontleding in die verslag deur Gallup – Gender Power in Africa: Analysis of the imbalance that shape women’s lives – het gefokus op vyf lande in Oos- en suidelike Afrika, naamlik Kenia, Suid-Afrika, Tanzanië, Uganda en Zimbabwe.

Die studie gebruik bevindinge van ’n ontleding van onlangse kwantitatiewe data van Gallup se wêreldopname, sowel as internasionale agentskappe soos die VN en die Wêreldbank. Dit sluit ook kwalitatiewe indiepte-onderhoude met inwoners in die vyf lande in.

Opvattings dat vroue met respek en waardigheid behandel word, het in alle lande wat bestudeer is, behalwe Tanzanië, afgeneem.

Gallup se Wêreldpeilingsdata toon dat in Kenia, Suid-Afrika, Uganda en Zimbabwe, die persentasie inwoners wat glo vroue word met respek en waardigheid behandel, het oor die afgelope dekade aansienlik gedaal. In 2021 het hierdie persepsie lae vlakke bereik onder beide mans (27%) en vroue (28%) in Suid-Afrika.

Deelnemers aan indiepte-onderhoude het opgemerk dat basiese geslagsongelykhede en verskille die lewens van vroue in hul samelewings vorm. Die algemene gevoel is dat vroue minder opvoedkundige en werksgeleenthede as mans kry en ook minder vryheid om besluite oor hul lewens te neem.

Die verslag maan die vermindering van geslagsgebaseerde geweld (GBV) en die verhoging van vroue se veiligheid is en behoort kritieke prioriteite te wees. Ten minste een uit elke vier vroue in elkeen van die lande waarop die verslag gefokus het, het in hul leeftyd geweld aan die hand van ’n geliefde ervaar. In Uganda was dit tot 45%.

Gallup se Wêreldopname in 2021 het bevind dat minder as die helfte van vroue in Suid-Afrika (27%), Zimbabwe (35%), Kenia (40%) en Uganda (45%) veilig gevoel het om alleen in die aand in die stad of gebied waar hulle woon te stap – ver onder die wêreldwye gemiddeld van 65%.

Sosiale verwagtinge wat op vroue geplaas word, bly ook struikelblokke tot onderrig en die arbeidsmark. Ten spyte van regsbepalings wat die teendeel aandui, bly kinderhuwelike algemeen in al die lande wat deel van die studie gevorm het. Dit raak veral onderrig en die vooruitsigte van werksgeleenthede vir meisies. Deelnemers aan die indiepte-onderhoude het die behoefte beklemtoon om die vooruitgang wat vir vroue gemaak is, te balanseer met tradisionele praktyke wat fokus op huistake en kinders grootmaak.

Volgens die verslag het vroue se verteenwoordiging op die nasionale politieke vlak verbeter, maar is hulle egter minder geneig om kommer oor kwessies by plaaslike beamptes aan te meld. Vroue is ook nie altyd bewus van hul wetlike regte nie. Kwotastelsels het vroue se verteenwoordiging in nasionale wetgewende vergaderings wel verbeter, maar tog laat hoor hulle hul stemme minder as die van mans.

Deelnemers aan die onderhoude van beide geslagte was dit eens dat vroue en jong meisies nie bewus is van die wetlike regte waarop hulle beskore is nie.

Oraloor Afrika suid van die Sahara is daar beduidende geslagsgapings in werksgeleenthede en toegang tot finansiële hulpbronne. In al vyf die lande wat deel van die studie gevorm het, was vroue minder geneig as mans om voltyds vir werkgewers te werk. Dit geld meestal vir werksgeleenthede in die formele sektor. In Kenia, Tanzanië en Zimbabwe is vroue beduidend minder geneig as mans om ’n rekening by ’n finansiële instelling of ’n mobiele diensverskaffer te hê.

Deelnemers was dit ook eens dat opvoeding belangrik is om gelykheid tussen die geslagte te bereik. Bywoning van sekondêre onderrig wissel egter tussen die vyf lande en meer navorsing is nodig om presies te bepaal hoe groot rol onderwys speel om die gaping te sluit.

Godsdiens word deur al die deelnemers aan die studie hoog aangeskryf en het ’n invloed op die opvattings oor geslagsgelykheid.

In 2020 het minstens 97% van vroue in al vyf lande behalwe Suid-Afrika (85%) gesê godsdiens is ’n belangrike deel van hul daaglikse lewe. Alhoewel deelnemers aan sommige indiepte-onderhoude voorgestel het dat godsdienstige leerstellings baie mense gesosialiseer het om patriargale norme te aanvaar, het 'n paar deelnemers alternatiewe interpretasies aangebied wat meer regverdige sienings ondersteun wat gebaseer is op die beginsel dat alle mense gelyk is en gelyke regte en geleenthede verdien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!