Geweld slaan in sirkels

Maatskaplike pandemie dreig nog
'n Studie in 2019 het bevind dat twee uit elke vyf mans en vroue tussen 18 en 24 fisieke en emosionele geweld as kinders ervaar het.
Jeanette Diergaardt
Die jeug van Namibië ondervind ’n kommerwekkende blootstelling aan geweld.

Dit is volgens ’n studie wat in 2019 onderneem is.

Die bevindinge van dié navorsing wat gefokus het op geweld teenoor kinders en die jeug, het weer ter sprake gekom by die onlangse beraad oor transformasie in onderwys in Parys.

Die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, het in haar voorlegging statistieke oor geweld teen kinders genoem as deel van die Taak-1-aksieplan wat deur Unesco van stapel gestuur is.

Namibië, in samewerking met Italië, gaan dié plan bestuur om die onderwysplan vir 2030 te ondersteun deur die bevordering van veilige skole.

Twee uit elke vyf mans en vroue tussen die ouderdomme van 18 en 24 het fisieke en emosionele geweld as kinders ervaar.

Die eerste nasionale studie wat landswyd in 2019 in Namibië onderneem is, skets ’n droewige maar hoopvolle scenario van geweld in Namibië teenoor kinders en die jeug.

Só lui ’n verklaring van die uitvoerende direkteur van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, me. Esther Lusepani, toe die verslag in 2020 vrygestel is.

Die studie het verder bevind dat geweld onder die jeug tussen die ouderdomme van 13 en 17 steeds kop uitsteek, en dat meisies (39,3%) meer emosionele geweld ervaar as seuns (30%). Emosionele geweld sluit onder meer afknouery in skole in.

Meer mans reik ook nou meer uit na hulpsentrums, sê die koördineerder van LifeLine/Childline, me. Shamyn Louw.

“Met meer moeite, geduld en bewusmaking sal meer mans uitreik,” het sy beklemtoon. Dit was veral duidelik tydens die Covid-19-pandemie.

Sy het gesê dit is makliker vir vroue om om hulp te vra wanneer dit by hul geestesgesondheid kom.

Kinders wat aan geweld blootgestel is, is meer geneig om geweld te gebruik, teenoor iemand wat nie geweld ervaar het nie.

Seuns (59,5%) was meer geneig om geweld as kind in hul gemeenskappe te aanskou teenoor die 48,8% van meisies.

Een uit elke twee vroue tussen 18 en 24 het iemand vertel dat hulle seksuele geweld as kinders ervaar het, teenoor net een uit drie mans in dieselfde ouderdomsgroep.

Die sentrum bied gratis maatskaplike dienste aan almal oraloor die land.

Individue wat enige trauma of emosionele geweld ervaar, kan die tolvryenommers 116 en 103 skakel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!