Handleiding bemagtig slagoffers van GBV

Regsprosesse, organisasies wat steun bied
Hetsy die persoon hulp soek of ander wil ondersteun, verseker die gids dat dié wat geraak word deur GBV weet wat hul regte en die stappe is om weg te breek uit 'n gewelddadige situasie of verhouding.
Henriette Lamprecht
Daar is weinig ’n dag en nooit ’n misdaadverslag oor ’n naweek waarin daar nie voorvalle van geslagsgebaseerde geweld (GBV) aangemeld word nie.

Hoewel Namibië die kindersorg- en beskermingswet, asook die wet op die bekamping van huishoudelike geweld het, is verkragting en die moord op en geweld teen vroue en kinders ’n epidemie en ’n nasionale krisis wat alle streke, alle rasse en alle sosiale vlakke raak.

Danksy ’n organisasie wat uit sy pad gaan om ’n daadwerklike verskil te maak in die lewens van vroue wat hierdeur geraak word, het ’n handleiding nou die lig gesien wat op GBV fokus.

Step Up Ark op Rehoboth is die breinkind van Martha McNab wat ’n veilige en bemagtigende omgewing vir slagoffers van GBV geskep het waar hul verhale werklik gehoor en hulle ondersteun en beskerm word.

Die gids is die vrug van Martha en haar span se onbaatsugtige en voortgesette werk in nie net Rehoboth nie, maar ook die Hardapstreek.

Die handleiding is ontwerp om gemeenskappe te bemagtig met noodsaaklike kennis, ware lewensverhale en praktiese hulpbronne om GBV in Namibië hok te slaan.

Die omvattende gids met illustrasies van verskeie moontlike scenario’s, fokus op die Hardapstreek en verskaf noodsaaklike inligting oor regsprosesse, deel die ervaring van slagoffers van GBV en lys ook sleutelorganisasies wat ondersteuning bied.

Hetsy die persoon hulp soek of ander wil ondersteun, verseker die gids dat diegene wat deur GBV geraak word, weet wat hul regte en die stappe is om weg te breek uit ’n gewelddadige situasie of verhouding.

Die handleiding is saamgestel danksy die insette van gemeenskapslede, plaaswerkers en sleutelrolspelers en dien as ’n opvoedkundige en bemagtigingsinstrument vir beide individue en gemeenskappe wat deur GBV geraak word.

Danksy hul ondersteuning en dié van DW Akademie, Namibia Media Trust (NMT), die Europese Unie (EU), die Duitse Federale Ministerie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (BMZ), sowel as die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) kan noodsaaklike inligting nou diegene bereik wat dit die nodigste het, veral in landelike gebiede waar bewusmaking en toegang tot ondersteuning steeds beperk is.

Benewens om gemeenskappe met die nodige kennis, stories en hulpbronne in Namibië toe te rus, poog die gids om die voorkoms van GBV in die Hardapstreek te takel.

Laasgenoemde word gedoen deur hulpbronne te verskaf oor verskillende regsprosesse asook die kontakbesonderhede van organisasies wat hulp kan verleen, om sodoende te verseker dat diegene wat deur GBV geraak word weet hulle kán uit hul omstandighede ontsnap.

Die amptelike bekendstelling van die handleiding vind op 25 April tydens ’n galageleentheid plaas waartydens geld vir die Step Up Ark GBV-sentrum ingesamel sal word. Die sentrum, wat op ’n plot van vyf hektaar gebou gaan word, sal as ’n plek van genesing en bemagtiging vir vroue en kinders dien wat van geweld ontsnap het.

Die handleiding kan by die volgende skakel afgelaai word: https://ippr.org.na/publication/gender-based-violence-gbv-toolkit/.

Om by Step Up Ark betrokke te raak en ’n bydrae tot die veilige tuiste vir vroue en kinders op Rehoboth te maak, stuur ’n e-pos na [email protected] of skakel 081 630 5887. Besoek ook hul webtuiste by www.stepupark.com.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer