Hardapboere op hul knieë

Gewas- en veeproduksie onder druk
Groot kommer heers oor die sosioëkonomiese impak op boere en die gemeenskap van Mariental indien daar geen reën en invloei in die dam is nie.
Francoise Steynberg
’n Donker wolk hang oor Mariental weens die lae vlak van die Hardapdam, en dit blyk nie ’n reënwolk te wees nie.

Dit is die gevoel van boere in die omgewing weens dié dam wat tans slegs 13,6% vol is, die versengende droogte en veeproduksie wat reeds onder druk is.

“Die huidige onttrekking en verdamping van water uit die dam, is 8,8% per week. Aan die einde van April behoort die Hardapdam op sewe persent te staan,” het Dawie de Klerk, die voorsitter van die Hardap Boerevereniging en ’n boer van die Hardapskema, aan Republikein gesê.

“Dan sal die gravitasie-uitvloei staak wat die kanaal voed, waarna daar genoeg drinkwater vir twee jaar sal wees wat deur NamWater uitgepomp sal word.”

De Klerk sê die grootste uitdaging is gewasverbouing met besproeiing wat totaal en al tot stilstand sal ruk as die dam geen invloei teen einde April kry nie.

“Dit sal ’n geweldige sosioëkonomiese impak op die dorp en sy gemeenskap hê. Sou daar nie reën kom nie, voorsien ek ’n groot persentasie afleggings. Daar móét reën kom!”

De Klerk verduidelik as waterlewering staak, dan staar lusern- en druiweboere reuse-uitdagings in die gesig.

“Baie en nuwe lusern is vanjaar aangeplant en dit gaan vrek sonder water. Namibië se voerproduksie is reeds onder erge druk en die Hardapskema maak ’n groot persentasie van dié produksie uit.”

Hy sê met die grense wat gesluit is vir voerinvoere weens bek-en-klouseer, sal daar ander maatreëls geïmplementeer moet word.

Franz Homsek, die hoofbedryfsbestuurder van die !Aimab Superfarm van die Ohlthaver en List-groep (O&L), sê die Hardapdam is die grootste lewensaar van Mariental, wat uit ’n ekonomiese oogpunt ’n groot impak op die gebied het.

Hul melkkudde van 2 600 koeie op die plaas waar 40 000 liter melk per dag geproduseer word, is afhanklik van water. !Aimab produseer self 10 000 tot 15 000 ton voer en koop voer by omliggende boere aan.

‘BOERE KAN NIE BEKOSTIG OM TE VOER’

Wat die veesektor betref, sê De Klerk beespryse en skaapuitvoerpryse val weens die droogte en boere kan nie meer bekostig om hul vee te voer nie.

“Dis ’n oorlewingstryd om hul kernkudde te behou en die kans is groot dat veeboere – veral jong boere – kan ‘uitboer’. Boere sê hulle tel daagliks wildkarkasse in die veld op, selfs van dooie springboklammers.”

De Klerk sê boere het reeds die einde van hul perke bereik.

“Alles kom neer op kapitale druk. Sê nou net die Hardapdam kry eers volgende jaar invloei, sal die boere by finansiële instellings moet leen om kunsmis en saad te koop om wintergewasse, soos koring en lustern, te vestig.”

Dit beteken die eerste inkomste wat Hardapprodusente sal ontvang, sal dan eers Desember volgende jaar wees. Hy het met handelsbanke gepraat vir ’n helpende hand indien daar geen invloei in die dam sou wees nie, “maar boere moet sekuriteit of bykomende sekuriteit hê”.

De Klerk sê droogtehulp van die regering sal nie voldoende wees om boere vir 18 maande te dra nie: “Dis ’n somber en donker prentjie wat voorlê met die jongste weervoorspellings wat dui op ’n droë Maart en April.”

Hy het bevestig die ministerie van landbou, water en grondhervorming het pas ’n konsultant aangestel om die Hardapskema te evalueer en weer op standaard te kry ná ’n onlangse vergadering met NamWater, die Namibië Landbou-unie en Hardapprodusente. Die konsultant sou Dinsdag op die dorp aankom.

“Vir landbouminister Calle Schlettwein is die Hardapskema as ’n broodmandjie belangrik,” sê De Klerk

Die damvlak is volgens skemaboere nie hul enigste uitdaging nie met diefstal van mielies, boontjies en lusern wat glo aan die orde van die dag is.

Werner van Watzdorf, die voorsitter van die Mariental Inwonersvereniging, beaam Mariental se gemeenskap is op sy knieë en sê 32 besighede het reeds die afgelope vyf jaar hul deure gesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!