'Kondig droogtenoodtoestand af'

Oesskattings veel laer
Die huishoudelike voedselsekerheidsituasie in suidelike, oostelike, westelike en sentrale Namibië is ook swak as gevolg van die heersende droogtetoestande.
Francoise Steynberg
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming beveel aan dat die regering op nasionale vlak ’n droogtenoodtoestand moet afkondig met die voorlopige oesskattings wat op ’n drastiese daling dui.

Graanproduksie word op 72 150 metrieke ton geraam, wat 53% laer is as die afgelope seisoen se oes van 153 012 metrieke ton.

Dit is volgens die landbouministerie se verslag oor gewasvooruitsigte, voedselsekerheid en die droogtesituasie van Maart.

Voorlopige oesskattings dui op ’n drastiese daling, met alle gewasproduserende streke in die kommunale gebiede wat ’n kleiner oes as die vorige seisoen verwag.

Boonop word voorspel die kommersiële gebiede sal ’n oes van 35 200 metrieke ton aanteken, wat 68% minder is as die vorige seisoen se produksie van 111 000 metrieke ton – wat slegs 49% tot die nasionale graanproduksie bydra.

Volgens die verslag is hierdie afname hoofsaaklik te wyte aan die verwoestende droogte wat ondervind word in gebiede wat afhanklik is van reën, asook die aansienlike vermindering in die aantal boere wat mielies en koring in die kommersiële gebied hierdie seisoen geplant het.

“Inteendeel, die besproeiingsgroenskemas alleen het ’n verbetering in die verwagte oes vir beide mielies en koring met onderskeidelik 24% en 63% getoon, vergeleke met verlede seisoen. Hierdie verbetering is toegeskryf aan ’n merkbare toename in die aangeplante oppervlakte deur dié groenskemas,” lui die verslag.

Wat gewasplae betref, sukkel die Zambezistreek boonop met die uitbreking van die rooi treksprinkaan wat mielieoeste vernietig, en die skade is ernstig.

VOEDSELSEKERHEID VERSWAK

Huishoudelike voedselsekerheid het oor die algemeen in baie dele van die land verswak, ná ’n verminderde landbouproduksie wat in die 2022-’23-seisoen aangeteken is.

“Daar word aangedui dat talle huishoudings in die groot kommunale gewasproduserende streke hul vorige seisoen se voedselvoorraad uitgeput het en die meerderheid is tans afhanklik van die mark en droogtehulpvoedsel.”

Verder is die huishoudelike voedselsekerheidsituasie in suidelike, oostelike, westelike en sentrale Namibië ook swak as gevolg van die heersende droogtetoestande.

“Hierdie gebiede bestaan hoofsaaklik uit boere wat vir hul lewensbestaan op veeboerdery staatmaak, maar die weiding in hierdie streke is swak en onvoldoende om vee optimaal te onderhou,” lui die verslag.

“Baie dele van die land is in noodweiding, met redelike tot swak veekondisie, veral in die suidelike, westelike en oostelike dele van die land. Die situasie sal na verwagting vererger met die land se reënseisoen wat verby is.”

Volgens die bevindinge van die verslag beveel Ndiyakupi Nghituwamata, die uitvoerende direkteur in die landbouministerie, onder meer aan dat die uitbreiding van die lewendehawe-ondersteuningsprogram oorweeg word.

Die regering moet ook deur die kantoor van die eerste minister die droogtehulpmaatreëls uitbrei na huishoudings wat met voedselonsekerheid te kampe het.

“In die algemeen, gebaseer op die bevindinge, word aanbeveel dat die regering ’n droogtenoodtoestand op nasionale vlak verklaar,” het sy benadruk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!