Ma’s en versorgers by die Rundu Intermediêre Hospitaal voel afgeskeep omdat hulle beweer dat hulle nie kos kry nie. Foto Nikanor Nangolo
Ma’s en versorgers by die Rundu Intermediêre Hospitaal voel afgeskeep omdat hulle beweer dat hulle nie kos kry nie. Foto Nikanor Nangolo

Ma’s, versorgers ly honger by die Rundu-hospitaal

'n Een-en-twintigjarige ma van die Zambezistreek, wie se kind sedert Desember verlede jaar in die hospitaal opgeneem is, het die beproewinge as "wreed" en "ongewoon" beskryf.
Nikanor Nangolo
Ma’s wat by die Rundu Intermediêre Hospitaal se algemene sale bly, sê hulle word aan uiterste hongerte onderwerp en waarsku dat iemand van die honger kan doodgaan as die situasie voortduur.

’n Ondersoek deur Network Media Hub (NMH) het aan die lig gebring dat hierdie ma’s wat by die hospitaal loseer maande lank sonder kos gegaan het, ’n situasie wat volgens bronne nie altyd die geval was nie.

’n Een-en-twintigjarige ma van die Zambezistreek, wie se kind sedert Desember verlede jaar in die hospitaal opgeneem is, het die beproewinge as “wreed” en “ongewoon” beskryf.

“Ek het die laaste drie dae nie behoorlik geëet nie. Ek het slaapplek gekry, maar geen kos nie.”

“Ons kry net iets te ete as daar oorskiet van die kinders se maaltye is, maar die kos is skaars genoeg vir die kinders self. Dit is nou drie dae sedert ek laas geëet het,” het sy verlede week aan NMH gesê.

“Ek het ’n vriendin wie se familie soms vir my kos bring, en dit is hoe ons oorleef. As haar familie dit egter nie maak nie, eet ons nie.

“Ek is al sedert verlede Desember hier, en dit is onduidelik wanneer my seun, wat al twee maande in die hospitaal is, ontslaan gaan word.

“Dis baie frustrerend. Hulle sê vir ons daar is nie kos nie, en wat dit erger maak, is dat ek geen familie in Rundu het nie. ’n Mens kan doodgaan van hierdie soort honger,” het sy bygevoeg.



HOSPITAALBRONNE

Volgens hospitaalbronne ontvang pasiënte drie maaltye per dag – ontbyt tussen 08:00 en 09:00, middagete tussen 12:00 en 13:00 en aandete om 16:30.

Versorgers sê egter hierdie skedule skep ’n probleem, aangesien hulle dikwels later in die aand honger word.

“Die kwessie van kos is veral ernstig in die algemene sale. Wanneer jy jou kind hospitaal toe bring, kan hulle nie alleen bly nie, veral as hulle jonk of gestremd is. In sulke gevalle word ’n ouer of versorger verplig om by hulle te bly,” het een bron gesê.

“Slegs die kind ontvang egter kos, die ma of versorger nie. Stel jou ’n ma voor wat 200 of selfs 300 kilometer vanaf afgeleë gebiede soos Katima Mulilo of Andara gereis het om haar kind na hierdie verwysingshospitaal te bring.

“Dikwels het sy niemand wat haar besoek of kos vir haar bring nie. Sommige versorgers gaan vir weke sonder ’n enkele besoeker,” het die bron bygevoeg.

Nog ’n ingeligte bron het bevraagteken hoe daar van versorgers verwag word om onder hierdie omstandighede te oorleef.

“Hulle weet nie hoe lank hulle gaan bly nie, en as hulle van ver af is, het hulle geen plaaslike ondersteuningstelsel nie.

“Sommige ma’s gaan drie weke sonder ’n besoeker, wat beteken dat hulle vir lang tye sonder kos gaan,” het hy gesê.

“Hierdie situasie is onaanvaarbaar. As ouers en versorgers nie van kos voorsien word nie, kan hulle gedwing voel om hul kinders agter te laat. Maar wie sal dan na die kinders omsien in hul afwesigheid? Niemand.

“Stel jou voor ’n ma wat ’n vierjarige met ’n ernstige wond versorg. Die kind kry kos, maar die porsie is vir een persoon bedoel.

“Dis nie genoeg om die kos tussen haar en die kind te verdeel nie en in baie gevalle word die kos tussen die kinders verdeel.

“Dit is die werklikheid waarmee versorgers te kampe het, en dit is ’n ernstige probleem wat dringend aandag moet geniet,” het die bron gesê.

Nog ’n ma, wie se vierjarige seuntjie onlangs opgeneem is, het gesê die kos wat aan haar kind gegee word, is nie genoeg nie. Dit het haar gedwing om ander maniere te vind om sy maaltye aan te vul, alles terwyl sy sukkel om haarself te voed.



NAVRAE

Die mediese superintendent van die hospitaal, Theresia Shivera, wou nie op navrae reageer nie en het gesê sy het meer tyd nodig om die saak te ondersoek.

Intussen het die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, Ben Nangombe, gesê hy is onbewus van die kwessie.

“Ek moet daarna kyk, want die saak is nie by my aangemeld nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer