FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

N$482 miljoen kort vir droogteprogram

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Voedselhulp aan ’n beraamde 341 855 kwesbare huishoudings, die ondersteuning van boere se vee en die voorsiening van water aan droogtegeteisterde gemeenskappe as deel van die regering se droogteverligtingsprogram, gaan N$1,3 miljard kos.

Hiervan het die regering reeds N$825 miljoen toegeken, met N$482 miljoen wat nog nodig is om die noodlenigingsprogram te implementeer, aldus die adjunk- eerste minister, John Mutorwa.

President Nangolo Mbumba het op 22 Mei ’n nasionale noodtoestand afgekondig weens die ernstige droogte.

Mutorwa het tydens ’n gesamentlike koördineringsvergadering met ontwikkelingsvennote vir die huidige finansiële jaar se droogtehulpprogram die hoop uitgespreek dat die regering “met julle vrygewigheid en onwrikbare ondersteuning” die gaping van meer as N$480 miljoen sal kan vul om lewens en mense se lewensbestaan te beskerm.

Mutorwa het verwys na rekords van die Namibiese Meteorologiese Dienste wat wys die land het ondergemiddelde reënval gehad wat tot swak landbouproduksie en die vestiging van weiding gelei het.

Die minister van landbou, water en grondhervorming se verslag oor verwagte oeste, voedselsekuriteit en die droogtesituasie, het ’n skerp afname in die verwagte oeste voorspel en dat dit minder as die vorige seisoen sal wees.

Volgens Mutorwa word die nasionale graanproduksie van wit mieliemeel, sorghum, pêrelgiers en koring vir 2024 beraam op 53% minder as die vorige seisoen se oes. Daarmee saam was die land se damme se totale kapasiteit in Maart 55%, met die lae watervlakke wat veral kommerwekkend in die sentrale gebied en in Windhoek is.

Tussen Oktober verlede jaar en 15 Maart vanjaar is 4 930 eise verwerk om veeboere te ondersteun wat deur die droogte geraak is.

Dit is volgens die verslag vir oesvooruitsigte, voedselsekerheid en droogte wat die ministerie van landbou, water en grondhervorming uitgereik het.

Die verslag sê voorts die regering het vanaf 1 Oktober tot 31 Maart droogtehulpmaatreëls ingestel om dié boere deur die lewendehawe-ondersteuningsprogram in al 14 streke te ondersteun. Dit het beide kommersiële en kommunale boere ingesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer