Gender gap
Gender gap

Namibië behou nouer geslagsgaping

In agtste posisie
Die land het sy posisie van verlede jaar behou en is die enigste Afrikaland suid van die Sahara wat die toptien gehaal het.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - Namibië bly onder die toptien lande wat ten minste 80% van sy geslagsgaping vernou het, volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se geslagsgapingsverslag vir 2022.

Die land het sy nommeragt-posisie van verlede jaar behou en is die enigste Afrikaland suid van die Sahara wat die toptien gehaal het.

Die verslag – gebaseer op ’n beoordeling van 146 lande – het getoon dat die geslagsgaping tussen 2006 en 2023 net met 4,1% verbeter het.

Stadige vordering word gemaak na die doelwit om 100% geslagsgelykheid wêreldwyd te bereik en kan volgens die verslag 131 jaar neem.

Dit is noemenswaardig dat Namibië in 2006 in die 38ste posisie was.

Luidens die verslag het geen land nog volle geslagsgelykheid bereik nie, hoewel die topnege lande – Ysland, Noorweë, Finland, Nieu-Seeland, Swede, Duitsland, Nicaragua, Namibië en Litaue – minstens 80% van hul gaping vernou het.

Ysland het vir die 14de agtereenvolgende jaar die eerste plek behaal en is ook steeds die enigste land wat meer as 90% van sy geslagsgaping (91,2%) vernou het.

NOG WERK Lê VOOR

Luidens die verslag is Afrikalande suid van die Sahara se gelykheidstelling die sesde hoogste onder die agt streke met 68,2%, bo Suider-Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Teen die huidige tempo van vordering sal dit 102 jaar neem om die geslagsgaping in Afrikalande suid van die Sahara te sluit.

“In die agtste posisie is Namibië, wat 80,2% geslagsgelykheid bereik het – ’n afname van 0,5% sedert die vorige uitgawe. Namibië het volle gelykheid behaal op beide die gesondheids- en oorlewings- en opvoedkundige prestasie-subindekse, hoewel hul absolute prestasievlakke laag is vir beide vroue en mans.”

Met 56% van tegniese werkers en 43,6% van senior beamptes wat vroue is, is ekonomiese deelname en geleenthede op 78,4%-gelykheid, wat Namibië 19de wêreldwyd in hierdie opsig plaas, sê die verslag.

“Na ’n fase van vinnige en breedgebaseerde toename in ekonomiese gelykheid tot 2018, het dit egter afgeneem.”

Dit is meestal te wyte aan ’n afname van 4,8% in gelykheid in geskatte verdienste en ’n afname van twee persentasiepunte in gelykheid in die arbeidsmagdeelnamekoers sedert 2018.

Namibië het gelykheid van 44,3% in politieke bemagtiging behaal, met 44,2% vroulike parlementariërs, 31,6% vroueministers en ’n vroue-eerste minister wat sedert 2015 aan bewind is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer