Namibië se sterftekoers styg

Covid-19 hoofoorsaak van sterftes in 2021
Diarree-verwante siektes is verantwoordelik vir die meeste aantal kindersterftes.
Henriette Lamprecht
Ogone Tlhage - ’n Verslag oor die oorsaak van sterftes in die land deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) toon die land se sterftekoers het oor ’n vyfjaartydperk gestyg.

Die aantal sterftes tussen 2018 tot 2021 het vanaf 18 939 tot 24 220 toegeneem. In die algemeen is meer sterftes onder mans as vrouens, sowel as babas en bejaardes aangeteken.

Oor ’n tydperk van vier jaar – vanaf 2018 tot 2021 – is 18 972 sterftes in 2018, 19 485 in 2019, 18 100 in 2020 en 24 220 in 2021 aangeteken. Terwyl MIV in die algemeen die grootste oorsaak van sterftes tussen die ouderdom van 15 en 29 jaar was, was Covid-19 die hoofoorsaak van sterftes in 2021.

“Die grootste oorsaak van sterftes in die ekonomies-aktiewe groep tussen die ouderdomme van 15 tot 59 jaar was MIV in 2020 met 13,5%. In 2021 was dit Covid-19 met 15,1%. Die meeste bejaardes (60 jaar en ouer) en wel 17,6% is in 2020 weens hoë bloeddruk dood, terwyl Covid-19 in die volgende jaar verantwoordelik was vir 25% van die sterftes,” luidens die verslag.

Die verslag sê in die algemeen word die hoogste sterftesyfers in die wintermaande van Junie, Julie en Augustus aangeteken.

“Die meeste sterftes in Namibië kom van Junie tot Augustus en ook Desember voor met ’n bestendige patroon vanaf 2018 tot 2021. In 2021 is meer sterftes (25%) in Junie en Julie aangeteken toe die Covid-19-pandemie ’n hoogtepunt bereik het.”

Diarree-verwante siektes is verantwoordelik vir die meeste aantal sterftes onder kinders.

“Diarree-verwante siektes is verantwoordelik vir die meeste sterftes in kinders van 0 tot vier jaar, gevolg deur versmoring en trauma tydens geboorte (10,8%), babas wat te vroeg gebore is en ’n lae gewig met geboorte het (8,8%), lugweginfeksies (7%) en wanvoeding (4,7%).”

Sterftes onder ouer kinders is meestal weens verdrinking.

“Verdrinking is die hoofoorsaak van sterftes by kinders tussen die ouderdomme van vyf tot 14 jaar op 11,1%, diarree-verwante siektes op 10,1%, padongelukke op 8,8%, wanvoeding op 7,5% en endokriene afwykings 4,6%.”

Diarree-verwante siektes was ook die hoofoorsaak van sterftes van kinders onder vyf in 2020 met 11,9% en 11,3% in 2021. In dieselfde twee jaar het verdrinking die meeste lewens van kinders tussen die ouderdomme van vyf tot 14 jaar geëis met onderskeidelik 13,2% en 11,1%.

Op ’n streekbasis het die Oshanastreek die hoogste sterftekoers per streek aangeteken (met tussen 12% en 17,5%), gevolg deur Khomas, Zambezi, Omaheke en Hardap (tussen 10% en 11,9%).

Oshana en Omaheke het die hoogste sterftekoers vir babas in 2021 aangeteken, gevolg deur Zambezi, Kavango-Oos, Otjozondjupa, Omusati en Hardap (63,1% tot 77%). In 2020 het sterftes onder kinders jonger as vyf in Omaheke en Oshana gewissel tussen 81 en 134,8 per 1 000 lewende geboortes, terwyl die hoogste sterftesyfer in dié verband in 2021 in Kavango-Oos, Omaheke, Oshana, Otjozondjupa en Zambezi aangeteken is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!