Ouers, voogde ‘misbruik’ ongeskiktheidstoelae

Ervaar glo diskriminasie in arbeidsmark
Die regering het verlede jaar besluit om die bedrag vir die ongeskiktheidstoelae vir kinders onder die ouderdom van 18 van N$250 tot N$1 300 te verhoog.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Ouers en voogde van kinders wat met gestremdhede in Namibië leef, misbruik glo die toelae terwyl hulle die veronderstelde begunstigdes in armoede laat krepeer.

Die regering het verlede jaar besluit om die bedrag vir die ongeskiktheidstoelae vir kinders onder die ouderdom van 18 van N$250 tot N$1 300 te verhoog, maar selfs met die skerp verhoging word die geld nie tot voordeel van die kinders gebruik nie.

Só het Tobias Mumoye, ’n jeugbeampte by die ministerie van sport, jeug en nasionale diens wat verantwoordelik is vir jongmense met gestremdhede, verlede week tydens ’n werkwinkel op Ongwediva gesê. Die werkwinkel is bygewoon deur jongmense met gestremdhede van die Oshana-, Ohangwena-, Omusati- en die Oshikotostreek vanaf 10 tot 21 Julie.

Mumoye het gesê die begunstigdes van die ongeskiktheidstoelae baat nie daarby nie, maar eerder hul ouers en voogde.

Hy het gesê hy het vroeër geglo dat die probleem net sommige gebiede raak, maar die kwessie blyk ’n nasionale probleem te wees.

“Ons moet maniere vind om sommige van hierdie uitdagings te takel. Die begunstigdes verdien om die toelae te ontvang. Daar is sommige voogde wat dit gebruik. Dit is heeltemal verkeerd,” het Mumoye beklemtoon.

Hy het die ouers en voogde aangemoedig om die regering tegemoet te kom om seker te maak daar word aan die begunstigdes se behoeftes voldoen en die toelae word gepas aangewend.

Mumoye het gesê soos sake nou staan, moet hulle met ander belanghebbendes konsulteer oor hoe hulle hierdie dringende uitdaging die hoof kan bied.

Tans het die ministerie byna 7 000 begunstigdes, met die totale maandelikse uitgawes aan ongeskiktheidstoelae vir kinders wat N$ N$8,9 miljoen beloop.

Ander uitdagings wat die groep volgens Mumoye gedeel het, is dat hulle voel daar word teen hulle gediskrimineer in die arbeidsmark, alhoewel advertensies vir vakante poste aandui dat persone met gestremdhede aangemoedig word om aansoek te doen.

“Wanneer dit by mededinging kom, kan die persoon gekwalifiseerd genoeg wees, maar hulle word weens hulle gestremdhede nie gekies nie. So verloor hulle dikwels motivering om deur te druk. Selfs wanneer hulle vir onderhoude opdaag, kan van die geboue nie voorsiening maak vir diegene in rolstoele nie – ’n aanduiding dat hulle nie vir die pos oorweeg kan word nie,” het hy gesê.

Mumoye het gesê daar is ook ’n wanbalans in terme van indiensneming, onderwys, opleiding en innovasie asook volle deelname wanneer dit by die politieke agenda kom.

“Studiemateriaal is duur vir mense met verskillende gestremdhede. Dit is dikwels moeilik vir instansies om hulle van daardie materiaal te voorsien weens ’n gebrek aan hulpbronne. Alles is duur; dit is die slagspreuk wat jy in die mark sal kry. Hulle bly uitgesluit in sommige van die beroepsentrums landswyd,” het hy gesê.

Agnes Tjongarero, die betrokke minister, het die jongmense belowe dat haar kantoor ander ministeries sal betrek om sommige van die kwessies wat hulle geopper het te takel om te verhoed dat “enigiemand uitgelaat voel”.

Tjongarero het gesê die groep mense met gestremdhede wat die meeste geraak word, is tussen die ouderdomme van 16 en 35 wat onvoldoende verteenwoordiging in die arbeidsmark geniet. Dit is volgens haar ontmoedigend en sy sê die ministerie van arbeid sal betrek word om die probleem op te los.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!