Sandmynery lei tot onenigheid

‘Onwettige’ verwydering die kern van dispuut
Ontevrede ploteienaars het hul ontevredenheid uitgespreek oor 'n baksteenfabriek op die oewers van die Swakoprivier in die Okahandja-omgewing wat onder meer glo die natuur verwoes.
Augetto Graig
Sowat 15 km buite Okahandja, op pad na Gross Barmen, loop die Swakoprivier en los vir eeue elke reënseisoen kosbare sand agter.

Dié sand is nou die kernpunt van ’n dispuut tussen bure aan weerskante van die rivier.

Op 28 April het inwoners van die plotte langs die rivier aan die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, NamWater se hoofbeampte, Abraham Nehemia, en Martha Mutilifa as waarnemende hoof van die Okahandja-munisipaliteit geskryf.

“Die ongereguleerde verwydering van klippe, sand en gruis vanuit hierdie kritieke ekostelsel veroorsaak onherstelbare skade aan die omgewing, wild en plaaslike gemeenskappe wat afhanklik is van die rivier vir hul lewensbestaan,” luidens die brief.

Een van die ontevrede ploteienaars, Hakkies Husselman, het sy ontevredenheid uitgespreek oor die baksteenfabriek wat direk oorkant die rivier en sy plot geleë is en sowat drie jaar gelede begin uitbrei het.

Hy sê die natuur word verwoes, die masjinerie raas gedurig, die lorries en stootskrapers veroorsaak stof en sy vee word gesteel en dat dié fabriek se werkers vermoedelik die diefstal help wegsteek.

“Dis ’n stortingsterrein hier,” sê hy en “die geraas maak my mal”.

Husselman kla ook oor die watervlak in omliggende boorgate wat glo met 15 meter gesak het.

Die onderneming waaroor Husselman kla, is JT Freighting wat aan die Super Sand-groep behoort.

Volgens die eienaar, Gerhard van der Merwe, het hy die bestaande sandmyn in 2017 gekoop, in 2018 het die masjinerie begin om die sand te verfyn en die klippe op te breek, en in 2019 is die baksteenfabriek gebou.

Met ’n kapitaaluitgawe van sowat N$22 miljoen, het die onderneming uitgebrei tot 51 voltydse werknemers, wat almal by die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) geregistreer is en diegene wat al langer as vyf jaar vir die onderneming werk, kom in aanmerking vir maatskappypensioen.

OWERHEDE SE INSETTE

By navraag het die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bevestig dat JT Freighting wel ’n geldige omgewingsklaringsertifikaat het, wat op 10 Oktober 2023 uitgereik is en geldig is tot 20 Oktober 2026.

Dié sertifikaat dek egter nie die baksteenfabriek nie, en spesifiek die berging van diesel en olie op die perseel is van die gereguleerde aktiwiteite waarvoor toestemming vereis word.

Volgens Van der Merwe het hy op 30 April met die omgewingskommissaris vergader waar ooreengekom is om ’n omgewingsbestuursplan vir die hantering van die brandstof op die perseel voor te lê.

Die ontevrede inwoners het ook die ministerie van landbou, water en grondhervorming genader om vas te stel of toestemming vir die sandmynery in die Swakoprivier gegee is.

Volgens Chrispin Matongela, die ministerie se adjunkdirekteur vir openbare betrekkinge, het JT Freighting reeds in 2014 toestemming gekry om vir drie jaar sand in die rivier te myn; ’n aansoek om verlenging is egter nie in 2017 toegestaan ​​nie.

Matongela brei uit dat die ministerie ingevolge die ou waterwet van 1956 nie by magte was om toestemming te gee nie, maar dat die nuwe wet op waterhulpbronbestuur van 2013 sedert Augustus verlede jaar van krag is, wat die ministerie die reg gee om sandmynery en die verwydering van klippe en gruis van rivierbeddings te reguleer.

Sandmyners landswyd kry tans ’n grasietydperk van 18 maande om teen volgende Februarie aansoek te doen om aan die nuwe wet te voldoen, sê hy.

’n Aansoek om ’n lisensie om vleilande te gebruik moet terselfdertyd gedoen word, met inagneming van die nuwe wet, voeg hy by.

Die ministerie van myne en energie reguleer glad nie sandmynery

VOLHOUBARE SANDMYNERY

Super Sand gebruik die omgewingskonsultant Quzette Bosman om aan regulasies te voldoen.

Sy beveel aan dat ’n buffersone van 2 meter rondom bome in stand gehou word, dat sandmynery nie binne 2 meter van die grondwatervlak gedoen word nie, en dat die ontginning in trappe gedoen word, eerder as sirkelvormig wat putte veroorsaak.

Die bewaring van rivieroewers is uiters belangrik, sê sy, nie net om die vloei van rivierwater binne die bestaande rivierloop te hou nie, maar ook omdat die oewers plante en diere aan die lewe hou, veral tydens droogtes.

Boonop is die sand op die oewers en modderige sand duurder om te vervoer en nie ideaal om bakstene mee te maak nie, voer sy aan.

Sy sê enige sandmynery naby infrastruktuur soos brûe is ’n teken van onwettige bedrywighede, so ook skade aan bome en hul wortels, en die praktyk om sirkelvormige gate uit te hol.

By JT Freighting word bogrond bykomend opgeberg en teruggelaai wanneer ’n spesifieke deel van die rivierbedding uitgemyn is, volgens die voorman Daniel van der Merwe.

In verband met dalende ondergrondse watervlakke, sê die eienaar, “daar is droogte,” en “dat studies sal moet wys of sy sandmynery enige impak daarop het”.

Hy sê ’n konsultant is aangestel om die geraasvlakke van die onderneming, wat glo gister die perseel sou besoek het, te kom meet.

In terme van ’n nywerheidsone vir sy baksteenfabriek is daar glo aansoek by die Okahandja-munisipaliteit gedoen en die proses duur voort, sê Van der Merwe.

Volgens hom word die voortsetting van volhoubare sandmynery op die terrein beplan nadat alle nodige permitte en toestemmings verkry is.

Kommentaar

Leoni Husselman 10 Maande Gelede 20 May 2024

Dit als klink maar vir my na n groot korupte storie. Iemand raak ryk en is besig om ons mooi land te verwoes. Dis baie hartseer. Regtig!!!!

Rapporteer
Leoni Husselman 10 Maande Gelede 20 May 2024

Diesel in die Swakkop rivier is n groot probleem

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer