151 suicides between 1 January and 12 May,
151 suicides between 1 January and 12 May,

Selfdood onder mans neem steeds toe

Rita Kakelo
Meer as 80% van voorvalle van selfdood wat sedert die begin van die jaar aangemeld is, is mans.

Dit volgens statistiek van die Namibiese polisie (Nampol) wat aandui dat 151 gevalle van selfdood vanaf 1 Januarie tot 12 Mei aangeteken is, insluitend 123 mans, 20 vroue en agt ongeïdentifiseerde persone.

Die Khomasstreek het die meeste voorvalle van selfdood in hierdie tydperk aangeteken met 24 gevalle, gevolg deur Ohangwena met 23, Oshikoto 22, Omusati 21 en Oshana met 20 gevalle.

Die streke wat die laagste koers van selfdoodgevalle aangeteken het, is die Zambezi-, Kavango-Oos- en Omahekestreek, elk met slegs twee voorvalle.

Die Hardap- en Kavango-Wes-streek het beide vyf voorvalle aangeteken, ||Kharas vier, Erongo 11, Otjozondjupa sewe en Kunene drie.

‘GEWELDIGE DRUK OP MANS’

Die kliniese sielkundige dr. Shaun Whittaker het die statistieke nagegaan en gesê dat die getalle na verwagting selfs nog verder sal toeneem, veral onder jong werklose mans tussen die ouderdomme van 20 en 29.

“Hul finansiële beperkings is ’n groot bydraende faktor,” het hy gesê.

Whittaker het uitgebrei dat geslagsrolle en giftige manlikheid (toxic masculinity) mans drasties beïnvloed.

“Mans word aangesê om nie hul emosies uit te druk, te huil of hul gevoelens te verwerk nie en hulle gaan deur ’n emosionele krisis.”

Hy het ook erken dat daar geweldige druk op mans is om die enigste voorsieners te wees en omdat hierdie las oorweldigend word, wend hulle hul tot grusame maniere om hul eie lewens te neem, soos om hulself te skiet of op te hang.

Daarbenewens het hy opgemerk dat vroue meer gereeld selfdood probeer pleeg, maar hulle is geneig om minder grusame maniere te gebruik, soos om hul polse te sny, wat hul kanse verhoog om selfdoodpogings te oorleef.

Hy het verder bevestig dat daar ’n patroon van selfdoodgevalle onder mans is wat al minstens ’n dekade voortduur

’n Verslag deur die Windhoek Observer het aangedui dat die Namibiese polisie tussen Januarie 2022 en April 2023 minstens 615 voorvalle van selfdood aangeteken het. Altesaam 485 was volwasse mans, terwyl 107 volwasse vroue was.

Boonop het die verslag getoon dat die selfdoodgevalle op verskeie maniere uitgevoer is. Dit het onder meer mense ingesluit wat hulself opgehang, geskiet, vergiftig, gesteek of gespring het, of hul keel gesny het, verdrinkings, verbrandings of ’n oordosis medikasie geneem het.

PAD VORENTOE

Whittaker het gesê dat die samelewing ’n ongesonde idee het van hoe mans moet leef en optree.

“Daar is ’n baie ongesonde boodskap wat patriargie propageer en dit moet getakel word,” het hy beklemtoon.

Die inspekteur-generaal van die polisie, Joseph Shikongo, het verseker dat die polisie sal voortgaan om die bewustheid van geestesgesondheid te verhoog deur gemeenskapsbetrokkenheid en -polisiëring.

Hy het mense verder aangemoedig om hulp te soek wanneer hulle dit nodig het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!