Smaakmaker ‘nie ’n kansvatter’

Lambrechts vorder geld in vir droogtehulp
Hoewel die regering nog nie 'n noodtoestand afgekondig het nie, meen lede van Droogtehulp Namibië dat vanjaar se droogte erger as 2019 s'n is.
Kristien Kruger
Vier dae ná ’n plasing op sosiale media deur die plaaslike Instagram-smaakmaker (influencer) Ruben Lambrechts, waarin hy vir hulp vra vir boere wat swaarkry as gevolg van die droogte, is meer as N$50 000 reeds ingesamel.

Dit ten spyte van die feit dat die woordvoerder van die ministerie vir landbou, water en grondhervorming, Jona Musheko, Woensdag gesê het Ruben is “net nog ’n kansvatter” en sy plasing op sosiale media as “’n bedrogspul” beskryf het.

“Die regering het nie amptelik ’n droogte verklaar nie, afgesien van verklarings wat deur politieke leiers gemaak is. Ons droogtehulp word in die regering se rekening gedeponeer, nie in persoonlike rekeninge nie,” het Musheko in reaksie op die plasing gesê.

In Lambrechts se plasing is die bankbesonderhede van Droogtehulp Namibië, ’n private geregistreerde maatskappy wat boere in nood help.

’n Lid van dié organisasie, Henriette Le Grange, het gister aan Republikein bevestig dat Lambrechts nie ’n “kansvatter” of “scammer” is nie.

“Daar is baie scammers, maar hy [Ruben] is verseker nie een nie. Ek ken hom en sy ouers al jare en al wat hy uit die goedheid van sy hart doen, is om vir ons geld in te samel.”

“Op sy plasing is ons Droogtehulp-rekeningnommer, so geld kom direk na ons toe. Geen fondse gaan na sy eie rekening toe nie,” het Le Grange verseker.

Volgens haar het Droogtehulp Namibië sowat N$51 000 op “BackaBuddy” ingekry ná Ruben se plasing met nog geld wat elektronies oorbetaal is (EFT).

Le Grange sê Droogtehulp Namibië help in sewe streke en sal die geld aanwend om vragte voer te versprei, wat tussen N$200 000 en N$280 000 beloop.

‘NOODTOESTAND’

Hoewel die regering nog nie amptelik ’n noodtoestand afgekondig het nie, het Musheko onlangs bevestig dat die ministerie besig is om ’n verslag saam te stel waarna die regering oor die pad vorentoe sal besluit.

Le Grange meen egter dat daar “lankal al ’n noodtoestand verklaar moes word”.

Volgens haar is vanjaar se droogte erger as 2019 s’n en reënvooruitsigte lyk nie belowend nie.

“Ek is vanaf 2015 betrokke by droogtehulp. Die droogte van 2019 was verwoestend; toe was die Weste en plek-plek in die Ooste baie droog, maar dit is nou op sy ergste,” het sy verlede week aan Republikein gesê.

Sy verduidelik dat die organisasie hulle bes doen om geld in te samel, maar daar is geweldig baie mense wat swaarkry.

Lambrechts het meet as 800 000 volgelinge op Instagram en is self ook ’n boer. Hy meen al kom die reën nou, is dit so laat in die seisoen dat dit vir baie boere nie veel gaan beteken nie.

“Daar is min tyd oor vir weiding om te herstel en goed terug te groei. Baie boere, veral in die verre suide en weste kry baie swaar met diere wat vrek as gevolg van geen weiding of voer wat die boere nie kan bekostig nie. Daarom probeer ek net help waar ek kan deur my platform, omdat ek self ’n boer is en weet hoe hartseer dit is om te sien hoe mens se vee vrek,” vertel Lambrechts.

DIE SOSIALEMEDIAPLASING

In Lambrechts se plasing deel hy dat Namibië ’n “natuurramp” in die gesig staar as gevolg van swak reën wat veroorsaak dat duisende diere van honger vrek.

“Ons het jou hulp nodig.

“Die gebrek aan reën het duisende Namibiese boere sonder toegang tot genoeg kos vir hul diere gelaat, aangesien daar geen weiding vir hulle is nie.

“Dit is pynlik om te sien hoe die diere dwarsoor ons land ly en vrek en die gevoel van hulpeloosheid maak dit erger.

“Daarom pleit ek by diegene wat kan help – selfs ’n paar dollar sal geweldig help om die Fonds waarmee ek saamwerk, vol te maak. Saam kan ons ’n verskil maak,” lui Lambrechts se plasing.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer