‘Staatlose’ San-egpaar kry uiteindelik ID's

Kan nou registreer vir staatstoelae
In reaksie op vorige beriggewing het die ministerie van binnelandse sake 'n ondersoek van stapel gestuur.
Yandi Du Plessis
Kenya Kambowe – ’n San-egpaar van die dorp Mutjiku in die Kavango-Oosstreek, wat voorheen gesê het hulle het nie die nodige nasionale dokumente om toegang tot broodnodige staatstoelaes en ander dienste te verkry nie, is nou op koers om hul identiteitsdokumente te ontvang.

Daar is voorheen berig oor die lot van Mboma Nyumbu (92) en Thitoka Ndumba (82), wat nie kon registreer en staatstoelaes ontvang nie – ’n situasie wat hulle van los werkies en regeringskospakkies afhanklik gemaak het.

In reaksie op dié beriggewing het die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit ’n ondersoek van stapel gestuur, die egpaar opgespoor en bevind hulle is Namibiese burgers en kwalifiseer vir nasionale identiteitsdokumente (ID’s).

Gevolglik is die proses aan die gang gesit om hul identiteitskaarte uit te reik, wat hulle vandeesweek behoort te ontvang.

REGERING WIL HELP

Die bogenoemde is deur Margaret Kalo, die woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, bevestig.

“Ons het hulle opgespoor en ons het hul vingerafdrukke geneem om te sien of hulle voorheen nasionale dokumente gehad het – dit lyk of hulle het, maar hulle het nooit hul ID’s kom haal nie, en ons het toe die proses begin om dit aan hulle uit te reik,” het Kalo gesê.

Kalo het ook ’n beroep gedoen op relevante rolspelers – soos leiers van kiesafdelings – om mense sonder dokumente in hul gemeenskappe te identifiseer en hulle aangemoedig om saam met die ministerie te werk om hierdie kwessie te takel en sodoende te verseker dat potensiële begunstigdes geïdentifiseer en bygestaan word.

“Ons moet dit vir ons mense doen. Mense kry swaar. Die ministerie is gereed om almal by te staan. Die raadslede kan die mense identifiseer, en ons sal vinnig reageer,” het sy gesê.

‘ONS IS GELUKKIG’

Oor die naweek het ons susterkoerant Namibian Sun ’n opvolgbesoek aan die egpaar afgelê, wat hul blydskap uitgespreek het oor die feit dat hulle uiteindelik hul nasionale dokumente gaan ontvang.

Die egpaar se dogter, Chedau Kayana (40) – wat haar oom se van gebruik het om haar ID te kry aangesien haar ouers nie die nodige dokumente gehad het nie – het gesê sy is bly dat haar ouers hul ID’s sal ontvang en hopelik sal kan registreer vir die staat se maandelikse pensioentoelae.

“Hulle is gelukkig, soos jy kan sien. Ek is ook gelukkig want nou sal ons situasie by die huis ten minste verbeter. Ons familie is groot, en ons het gesukkel om te oorleef, maar na wat julle vir ons gedoen het, sal ons julle altyd onthou,” het Kayana gesê.

Hul opstal huisves 18 familielede, van wie die meerderheid kinders is. Niemand het ’n vaste werk nie.

Mutjiku is sowat 205 kilometer oos van Rundu in die Mukwe-kiesafdeling geleë.

ERKENNING

Verlede maand het die ministerie van binnelandse sake aangekondig dat Namibië tans 141 048 ongedokumenteerde en staatlose persone huisves.

Volgens internasionale wetgewing is ’n staatlose persoon iemand wat nie in ooreenstemming met die land se wette as ’n burger beskou word nie. Sommige staatlose mense is ook vlugtelinge.

In reaksie op hierdie syfers het die kabinet verskeie veranderinge aan die land se wetgewing voorgestel om ’n wetlike raamwerk te verskaf om die status van staatlose en ongedokumenteerde individue te reguleer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer