Die Teenkorrupsiekommissie se uitvoerende direkteur, Tylvas Shilongo sê meer ondersoekbeamptes is nodig. Foto Augetto Graig
Die Teenkorrupsiekommissie se uitvoerende direkteur, Tylvas Shilongo sê meer ondersoekbeamptes is nodig. Foto Augetto Graig

Stryd teen korrupsie nie maklik

36 ondersoekbeamptes onvoldoende
Die Teenkorrupsiekommissie het verlede jaar 22 hofsake afgehandel, met elf skuldigbevindings.
Augetto Graig
Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) se agterstand in sake wat ondersoek kan word, het oor die laaste boekjaar vanaf 327 sake met 86 gekrimp, volgens dié instansie se uitvoerende direkteur, Tylvas Shilongo.

Intussen is 142 nuwe sake onder die ondersoekeenheid se aandag gebring, waarvan 87 afgehandel is, sê hy.

“Twintig van die ondersoeke wat sloer en vanaf die vorige boekjaar oorgedra is, is in die eerste kwartaal van die 2022-’23-boekjaar voltooi,” voeg Shilongo by.

Hy sê 38 sake is onder die aanklaer-generaal se aandag gebring, vir ’n besluit oor verdere vervolging. Elf beskuldigdes is skuldig bevind en twee is direk tronk toe gestuur, terwyl nege die keuse gekry het om ’n boete te betaal, sê hy. Dít was die uitkoms van 22 sake wat gedurende dié boekjaar afgehandel is.

Hy sê sy 36 ondersoekbeamptes sukkel om op datum te bly en dat die hervorming van die onderneming se struktuur dit moeilik maak om presies te bepaal hoeveel ondersoekers die ACC nog nodig het, “maar ons benodig meer,” sê hy.

“Ons is dun gesaai in die veld,” het hy gesê.

“Ons is nou besig met die modernisering en strukturele hervorming vir die ontwikkeling van ons organisasie.”

Nogtans het die kommissie se ondersoeke beter resultate gelewer om misdaadnetwerke uit te roei en die herwinning van bates, sê hy.

Die totale waarde van onwettige bates wat in die 2021-’22-finansiële jaar verhaal is, is sowat N$4,75 miljoen.

Bykomende uitdagings, sluit in ’n gebrek aan gespesialiseerde howe, en dat die ACC nie in groot dele van die land teenwoordig is nie.

Die ACC het net kantore in Khomas, Erongo, Otjiwarongo en in Oshana, het hy gesê.

Die ACC het ook by 18 instansies in 11 streke evaluerings vir die risiko van korrupsie voltooi en by die ministerie van werke en vervoer is 21 soortgelyke evalueringsoefeninge by regeringsgarages afgehandel, sê hy. Meer as 359 staatsamptenare het deelgeneem en ’n samevattende verslag is saamgestel en sal aan minister John Mutorwa oorhandig word.

Die kommissie het ook verlede jaar 53 forensiese ontledings van stapel gestuur waarvan 48 voltooi is.

Die ACC het verder 14 instansies in ses streke gemonitor en geëvalueer, terwyl opleiding in etiek en integriteit by 76 instansies in 13 streke aan 2 226 deelnemers aangebied is.

Openbare opleiding en slypskole oor die bewusmaking van teenkorrupsie en uitreikgeleenthede is in 90 gemeenskappe in 13 streke aangebied, voeg hy by.

“Altesaam 2 000 deelnemers is ingelig oor die nadele en impak van korrupsie,” het hy gesê.

Die ACC voer sedert April verlede jaar sy nasionale teenkorrupsiestrategie en plan van aksie 2021-2025 uit deur persoonlik met betrokke instansies te vergader en saam te werk.

Die kommissie werk ook saam met internasionale agentskappe, byvoorbeeld met sy eweknieë in Kenia, Uganda en Tanzanië.

’n Slypskool is met die Duitse ontwikkelingsinstansie (GIZ) gehou, ná ’n aanvanklike besoek aan Duitsland in 2019.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!