Trauma vir 'verlate' babas geweldig
Hospitaal bloot tydelike tuiste
In die meeste gevalle verdwyn die ma en los die baba in die hospitaal.
Henriette Lamprecht - Die trauma om vir maande en in sommige gevalle vir meer as ’n jaar vir dae aaneen sonder enige koestering, liefde en aandag net in ’n hospitaal te lê, is vir hierdie babas en kleuters wat in baie gevalle bloot deur ’n ouer hier gelos is, geweldig.
“Dis vir hulle erger om met hierdie trauma saam te leef as wat hulle sou sterf,” sê die private maatskaplike werker Catrien du Toit oor babas wat tans in die Katutura-hospitaal gehuisves word omdat daar na bewering nie vir hulle ’n ander veilige tuiste is nie.
Du Toit, wat ook vir ’n wyle by die staat gewerk het, beklemtoon egter ’n hospitaal is net ’n tydelike plek van veiligheid om verwaarloosde, mishandelde en ook babas wat deur hul ouers verlaat is te huisves.
“Dit is net vir ’n aand of twee. Hier is geen ‘nurturing’ nie, die beste belang van die kind word nooit toegepas nie,” sê sy.
Volgens Du Toit kan die een scenario wees dat die maatskaplike werkers in diens van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste nie die betrokke gevalle na die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoedeverligting en maatskaplike welsyn se maatskaplike werkers verwys het nie.
“Dit beteken hulle weet moontlik nie van hierdie gevalle in die hospitaal nie. Dit word nie verwys nie en die maatskaplike werkers is dus nie aktief besig om dit te ondersoek nie,” het sy verduidelik. Volgens haar is dit tydens dié ondersoek wat die maatskaplike werker uitvind of die baba familielede of voogde het waar die baba moontlik geplaas kan word.
“In baie gevalle word hierdie babas bloot hier gelos en keer die ma of ’n familielid net nooit weer terug nie.”
Du Toit sê sy is by magte om na ’n veilige tuiste vir hierdie babas te soek.
“Ek kan iemand vra en help! Ek kan laat weet word as daar ’n geval is wat nie ondersoek word nie; mense kan nie net bloot stilbly nie! Hierdie babas word totaal en al gefaal en die trauma is geweldig.”
Volgens haar wil sy “so aktief werk” dat ’n persoon haar dadelik sal bel as ’n geval nie ondersoek word of ’n baba nie dadelik na ’n plek van veiligheid uitgeplaas word nie.
“Dis ’n kwessie van ‘hier lê hulle nou’, maar wat nou verder, daar is geen plan B nie. Die babas moet hier uitgekry word en daar moet verhoed word dat dit weer gebeur.”
Du Toit sê Windhoek en die Khomasstreek het die meeste maatskaplike werkers van al die ander streke.
“Kan jy dink hoe lyk dit in ander staatshospitale in streke waar daar baie minder maatskaplike werkers is?”
Volgens haar het die babas wat vir maande in ’n staatshospitaal moet bly, in weinig van die gevalle hier weens verwaarlosing of mishandeling beland.
“In 99% van die gevalle het die ma verdwyn.”
Sy verduidelik die gesondheidsministerie stel ’n verslag van die betrokke baba saam vir die ministerie van geslagsgelykheid en wat insluit hoe lank is die baba reeds in die hospitaal, dat die familie nie opgespoor kon word en niemand die baba opgeëis het nie en dat hy of sy “medically cleared” is.
“’n Baba word in die hospitaal geplaas as hy mediese behoeftes het. Jy plaas nie ’n gesonde kind in ’n hospitaal nie, beslis nie vir maande en maande nie. ’n Voorbeeld is ’n geval waar ek ’n baba uit ’n dwelmhuis verwyder het wat erg ontwater was. Die baba is opgeneem, behandel, ontslaan en in ’n veilige tuiste geplaas.”
Du Toit beklemtoon mense kan ook ’n tydelike plek van veiligheid wees en nie net bekende veilige tuistes, soos die Hope for Life-stigting in Windhoek en die Ruach Elohim-stigting in Swakopmund nie.
“Ek doen ’n ‘screening’ en tuisbesoek en die verifiëring.”
Sy verwys na die Register on Adoptable Children and Prospective Adoptive Parents wat volgens haar “nutteloos” is.
“Daar is meer kinders as plekke van veiligheid, maar dit is absoluut geen verskoning nie. As maatskaplike werker moet jy ook die werwing van mense doen wat kan help.”
Die siftingsproses is dieselfde vir mense sowel as plekke van veiligheid. Dit sluit die inhandiging van gesertifiseerde kopieë van onder meer ’n mediese en sielkundige verslag, sowel as drie geskrewe getuigskrifte van vriende en kollegas in. Bogenoemde word by ’n maatskaplike werker ingehandig waarna verskeie konsultasies asook ’n tuisbesoek volg. ’n Besluit volg dan of die persoon geskik is al dan nie as tydelike pleegouer of dan ’n aanneemouer.
Die goeie nuus teen druktyd was dat daar vir elk van die babas waaroor Republikein berig het, ’n tuiste by Ronel Peters se Ruach Elohim-stigting in Swakopmund gevind is.
Vir enige navrae oor die registrasieproses oor hoe om op welke manier ook al die babas te help, kan slegs per whatsApp-boodskap aan Du Toit gerig word by 081 449 5227.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie