Vat roekelose bestuurders se lisensies af, sê MVAF

Teiken spoedoortredings, dronkbestuur
Padveiligheid is nie net 'n kwessie van statistieke en regulasies nie; dit is 'n kwessie van menselewens, gesinne en gemeenskappe, het Rosalia Martins-Hausiku gesê.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) oorweeg dit om ’n beroep op die regering te doen om roekelose bestuurders se lisensies terug te trek.

Dit volgens sy uitvoerende hoof, Rosalia Martins-Hausiku, wat gesê het by die laaste Vroue in Padveiligheid-konferensie verlede jaar is besluit om skuldiges se rybewyse met die vierde oortreding weg te neem.

Dit, het sy gesê, sal help om Namibiërs se lewens te beskerm en padveiligheid te handhaaf.

Sy het die opmerkings gemaak by die vierde Vroue in Padveiligheid-konferensie wat verlede week in Oshakati gehou is onder die tema “Vroue bemagtig gemeenskappe vir veiliger paaie”.

“Dit word nog met die betrokke belanghebbendes bespreek voordat ’n besluit geneem kan word,” het Martins-Hausiku gesê.

Volgens die MVAF sal hierdie oortredings die volgende insluit: spoedoortredings, bestuur onder die invloed van alkohol, bestuur terwyl jy ’n selfoon gebruik en versuim om die padreëls na te kom.

Die konferensie het ten doel om eendersdenkende belanghebbendes bymekaar te bring om deel te neem aan gesprekke oor die uitdagings rondom padveiligheid in Namibië en om oplossings te bied om lewens te red en beserings op die paaie te verminder.

NIE NET STATISTIEKE

Martins-Hausiku het gesê padveiligheid is nie bloot ’n kwessie van statistieke en regulasies nie; dit is ook ’n kwessie van menselewens, gesinne en gemeenskappe.

“Dit gaan oor die individue wat elke dag reise onderneem met die verwagting om veilig terug te keer huis toe na hul geliefdes. Ongelukkig is dit nie altyd die geval nie, aangesien padongelukke steeds ’n verwoestende tol op ons samelewing eis.”

Om veiliger paaie vir gemeenskappe te skep verg ’n gesamentlike poging, het sy gesê, en bygevoeg dit vereis proaktiewe betrokkenheid, opvoeding en die bevordering van verantwoordelike gedrag op ons paaie.

Die uitvoerende hoof het gesê dit behels bewusmaking en die aanmoediging van verandering in padinfrastruktuur, voertuigveiligheidstandaarde en wetgewing.

“Maar die belangrikste is dat dit die bemagtiging van individue binne ons gemeenskappe noodsaak om eienaarskap van hul veiligheid en die veiligheid van ander te neem.”

FUNDAMENTELE ASPEK

In ’n toespraak wat namens haar deur goewerneur van die Oshanastreek, Elia Irimari, voorgelees is, het Netumbo Nandi-Ndaitwah, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê padveiligheid is ’n fundamentele faktor vir mense om toegang te verkry tot werk, onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike dienste, insluitend ’n mens se sosiale netwerk van familie, vriende en vorms van vermaak.

Volgens Nandi-Ndaitwah – wat die beskermvrou van die Vroue in Padveiligheid-konferensie is – is padveiligheid gekoppel aan vroue se ekonomiese en maatskaplike bemagtiging, armoede-uitwissing en veiligheid van geslagsgebaseerde geweld.

Sy het bygevoeg statistieke van die MVAF toon dat mans drie keer meer geneig is om sterfgevalle in gerapporteerde ongelukke te wees.

“Die skielike, nadelige en langtermyn-impak op huishoudelike oorlewing van die verlies van die man se inkomste en die las van die versorging van die man se lewenslange gestremdhede kan dus buite verhouding op vroue val, omdat hulle [mans] die hoofbroodwinner is. Dit illustreer die interaksie tussen padveiligheid en armoede en die las wat op vroue geplaas word.”

Sy meen verder die negatiewe impak van padongelukke strek verder as fisieke pyn – daar is ’n reeks ander verborge kostes soos sielkundige, maatskaplike en ekonomiese gevolge.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!