Vyftienjariges word ouers

Tanja Bause
“Tienerswangerskappe is ’n groot probleem op Lüderitz,” sê Brigitte Fredericks, onderburgemeester van Lüderitz.

“Een van die grootste faktore is huishoudings wat deur kinders bestuur word. Talle van die fabriekswerkers gaan Noorde toe wanneer hulle aftree en dan los hulle hul kinders hier in die informele nedersetting. Baie kere is dit dan ’n tienermeisie wat na haar jonger broers en susters moet omsien. Daar is nie krag of kos in die huis nie en sy moet ’n plan maak om geld in die hande te kry en sy doen dit,” het sy uitgebrei.

Fredericks het sowat twee weke gelede haar suster se kleinkind in die hospitaal gaan besoek toe sy ’n tienerma (15) en haar vroeggebore baba teëgekom het. Die baba se pa is ook 15 jaar oud.

“Toevallig ken ek die kind, haar ma en ouma en sy vertel my toe dat die baba op ses maande gebore is en dus nog in die broeikas moet bly. Toe ek die klein dingetjie op daardie vuil verslonste kombers sien lê, wou ek huil.”

Sy het huis toe gegaan en ’n vriendin het haar gehelp om ’n noodkreet op Facebook te plaas

“Ek wou dit nie onder my naam plaas nie, want ek wou dit nie ’n politiese ding maak nie. Ek wou net die baba help.”

Met Fredericks se terugkeer na die hospitaal, was daar nog twee tieners wat geboorte geskenk het. Die skenkings wat vir die vroeggebore baba van oraloor die land ontvang is, word nou tussen die drie babas – wat almal in nood is – verdeel.

“Saam met die drie tieners wat geboorte geskenk het, is daar nog drie wat swanger is waarvan ek weet. Ek het gehoor van nog tienermeisies in die hoërskool, maar ek het nog nie kontak met hulle gemaak nie.”

“Die ma’s is almal tussen 15 en 16 jaar oud. Almal kom uit die informele nedersettings, soos Area 7 en is baie arm. Ons ken nie hulle omstandighede nie, dus is mense vinnig om hulle te oordeel.

“Bo en behalwe dat meisies planne moet beraam om geld in die hande te kry, word ander deur familielede verkrag. Dit dra alles by tot die kommerwekkende syfers van tienerswangerskappe.”

Dit is die rede waarom Fredericks met die projek, It takes a village to raise a child, begin het. Die projek se slagspreuk is, “If you cannot help, don’t judge”.

PROJEK

“Ek wil verskeie skole besoek en met tienermeisies gesels. Ek het met die vriendinne wat in die hospitaal kom kuier het, gesels en hulle almal het gesê dat hul ouers nie met hulle oor seks praat nie. Hulle wil ook nie met die onderwysers praat nie omdat hulle bang is hulle word geviktimiseer. Ek dink as ’n buitestander sal dit goed wees.”

Die projek sal ook die meisies tydens hul swangerskappe ondersteun en na die geboorte help.

“Ons sal ook diegene help wat weer terug skool toe wil gaan. Ek het ’n voorstel by die dorpsraad ingedien om ’n plek te soek waar die meisies hul babas in die oggende kan los en ná skool weer kan kom haal. Die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn sal twee oppassers beskikbaar maak.”

Fredericks sê Lüderitz ervaar talle maatskaplike probleme, onder andere ook dat seuns so jonk as nege jaar oud dwelms gebruik. Sy sê haar projek gaan vir eers net op tienerswangerskappe konsentreer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!