’n Blik op 50
ANDRé IZAAKS SKRYF:
“Waar op dié blik is ’n vyftig?” vra Daniel.
’n Geheimsinnige glimlag speel om sy mond en ontbloot sy wit tande geaksentueer teen sy donker gelaat.
Ons draai die bierblikkie om en om. Benewens “Windhoek Lager” en “Das Echte Südwester Bier” bespeur ons g’n vyftig nie.
“Daar’s nie ’n vyftig hier op nie,” sê Willie, terwyl Daniel hom sigbaar verkneukel in ons dilemma. Met groot vertoon vat hy die blikkie en druk sy vinger op ’n groot turkoois syfer vyftig verskans agter “Windhoek Lager” en “Das Echte Südwester Bier” terwyl hy skater van genoegdoening.
Ek, Willie en Bolle kan ons oë nie glo nie.
In die oog versteek, as’t ware, staan die groot 50 daar geskryf.
Dié staaltjie uit my kinderdae laat my altyd terugdink aan die sorgelose grootwordjare met twee van my neefs, Willie en Bolle. Ons was portuurs, met ek en Bolle dieselfde jaar se model, terwyl Willie in die daaropvolgende jaar gebore is, darem in Februarie, wat hom nie te jonk gemaak het nie.
Ons ma’s was susters, en in die plattelandse opset van die tagtigs was familieverband ’n stewige ding. Ons het saam skoolgegaan, saam gespeel en darem nie te veel baklei nie.
Mens wonder of die hedendaagse jeug hulle ooit indink waarmee energieke plaaskinders hulle 40 jaar gelede mee besig gehou het.
Skoolgaan is dalk al wat generasies X en Z in gemeen het.
Verder het die jong seuns van daai jare fiets gery, bol geskop en met ’n stuk plank as kolf in die straat krieket gespeel.
Hulle het draadkarre gemaak, kettie geskiet en hulle ma’s se besemstokke geruïneer deur twee daarvan in ’n tyre te sit en dit te stoot. Ou motorolie is in die tyre gegooi om te dien as smering. Dit het natuurlik die besemstok opgefoeter, wat op sy beurt na ’n opfoetery van ’n ander aard gelei het, en het die petalje – saam met die tyre se omwentelinge – ’n volle siklus van opfoetery voltooi!
Daar is hokkie gespeel; nie die spel met die bal en die stok nie. Lyne wat agt blokke beslaan, is met die voet op die grond getrek. Dan is daar op een been van hok tot hok gespring terwyl ’n plat klip van 3 cm tot 4 cm in deursnee geskop is sonder dat dit op ’n lyn kon gaan lê.
Hulle het vreetkaart, stuurkaart en dominoes gespeel. Laasgenoemde is soms self gemaak deur afval plankies en die kolletjies met ’n “kokipen” aangebring.
Ons ouers was almal ywerige lesers en die gewilde tydskrifte van die dag is verslind. Lees was nie die enigste tydverdryf sover dit die tydskrifte aanbetref nie. Ook hier is ’n speletjie geprakseer. Vooraf word besluit dat brille of horlosies getel word en dan werk dit so. Twee gaan sit langs mekaar met die boek op hulle skote, dan word die item (brille, horlosies) getel na gelang van die foto’s wat lukraak op die bladsye van die oop boek verskyn. Die een met die meeste items teen die laaste bladsy is die wenner.
Swem was natuurlik seisoenaal, met dié wat daar gewag moes word vir reën sodat die plaaslike watergat vol kan word. Dit was van die tydverdrywe van ons drie neefs. Daar was darem tyd vir skoolgaan ook.
Oudword is sekerlik die verste van ’n onbesorgde jong seun se gedagtes.
Sommige van ons ouers was toe reeds al in hul veertigs, maar ons het ongetwyfeld vyftig as baie oud beskou.
Dit was dus vir myself ’n oomblik van bepeinsing toe ek drie jaar gelede die rype ouderdom van 50 bereik het.
Bolle is reeds op 17-jarige ouderdom oorlede. Willie het ons op 47 ná ’n kort siekbed verlaat.
Daar is die gesegde dat mens die wêreld verlaat as jou werk hier klaar gedoen is, met iemand wat meewarig opgemerk het dat sy werk op daai stadium so ver agter is, hy dalk nooit sal sterf nie.
Maar wie of wat besluit wie dit gaan maak tot vyftig en verder? Die noodlot... of word dit deur ’n Hoër Hand so beskik?
Indien daar is, wat is die kriterium? Is die eskatologie daaragter te gewigtig vir ’n skrywe soos dié, en is die verborge dinge juis vir ’n rede verborge.
Ewenwel, daar is ’n groot mate van gratifikasie as besef word dat mens vyftig rondtes om die son voltooi het.
Die rede is eenvoudig. Dit is ’n voorreg wat nie almal beskore is nie.
Soos Daniel se ontwykende 50 op die bierblikkie, sal die geheim (dalk) weldra ontrafel word.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie