Afrikaans se invloed
ANONIEM SKRYF:
In my vorige skrywe het ek vertel hoe die woord “pasop” haar weg tot diep in die Demokratiese Republiek die Kongo gevind het. Hoe Afrikaans, wat in baie opsigte ’n sameflansing van verskeie ander tale is, weer op haar beurt ander tale binnedring en beïnvloed. Ek borduur graag hierop voort.
Om die skewe impak van ’n verswakkende ekonomie te midde van die hewigste droogte in menseheugenis (en die uitwissing van neëntig persent van sy kudde), asook die verlammende impak van Covid-19, die hoof te bied, het ’n sekere Afrikaanssprekende plaasboer in Namibië hom gewend tot die vervaardiging van houtskool. Die kappers en die branders het van oral by hom aangekom en die probleem van tale het hom dikwels stom gelaat.
Die burgeroorlog in Angola oor ’n tydperk van 27 jaar het gemaak dat ’n groot persentasie van die bevolking daar heeltemal ongeletterd grootgeword het. Sommige van daardie land se jong manne het hulle weg na die boer se plaas gevind. Uithalerwerkers. Maar die taalprobleem bly ’n krapperige neteligheid. Hierdie probleem is in ’n groot mate oorbrug deur van ’n tolk gebruik te maak. Dit het meestal gewerk, maar daar was tye wanneer die tolk nie beskikbaar was nie, en dan het dit maar geknetter.
So gebeur dit toe een dag dat twee van hierdie werkers hulle betaling sou ontvang en dan sommer ’n paar dae sou afvat om die een of ander in Windhoek te doen. Daar is vooraf op die plaas, met die tolk byderhand, werk daarvan gemaak om alles haarfyn aan die jong manne te verduidelik, sodat daar nie enige probleme sou opduik as die betaling in Windhoek gedoen word nie. Sover so goed.
Die oggend na die aankoms in die stad staan die twee voor hom en vra hom vriendelik dog dringend vir ’n uiterse noodsaaklikheid, maar al wat hy hoor, is iets wat klink soos pap-pabbab. Pab-babbab, wonder hy. Wat de hel kan dit beteken? Hy vra hierdie vraag met ’n leë kyk in sy oë en kry daardie selfde leë kyk met rente terug. Weer hoor hy pab-babbab. Ag my liewe vader tog, dink die arme boer. En nou is die tolk nie hier om die brabbel-pab-babbap te vertaal tot iets meer verstaanbaar nie. Hy trek sy skoeuers op. Dan hoor hy ’n woord wat vir hom ’n liggie laat opgaan. Auto. Jawohl! (Duitse invloed) dink die boer; dit weet hy beteken voertuig. Die bakkie! Hy maak ’n wroem geluid. Die twee glimlag en knik ywerig kop. Hier vorder ons!
By die bakkie gekom, klim een van die jongelinge agterop en kom te voorskyn met ’n sakkie mieliemeel. ’n Sakkie wat hy die vorige aand vergeet het om saam te neem. En net daar gaan daar vir die boer ’n groot lig aan. Pap-pap-pap. Pap. Kan jy nou meer. Hy het al gehoor die plaaslike mense gebruik die woorde pap en vleis, maar dit het hom skoon ontgaan.
Kyk net tot hoe diep in die hartland van die Tshiem-boendoes van Angola het die Afrikaanse woordjie pap sy weg gevind!
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie