As 'n tienerpreek jou uitboul ...
Ouers met babas weet as die son water begin trek, moet hulle hulle begin staal vir varkensuur. Daai berugte tyd wanneer hulle, doodmoeg, moet regstaan vir kleinding se geite - wanneer elke baba in Rosemary’s Baby ontaard en die hel in elke huishouding losbars.
Net sodra hulle dink hulle het dié beproewing oorleef, gryp die terreur-2’s hulle. Wanneer hul telgies se koppies sonder waarskuwing enige tyd, enige plek uithaak.
Mens wil jammer vir hulle voel, maar teen die tyd dat jy met ‘n tiener moet saamleef, besef jy: Al die varkensuur- en terreurdae was ‘n leerskool. Een wat jou laat eelte groei het. En waarvoor jy moet dankbaar wees.
Onthou ek weer gisteroggend toe my eie tiener besluit dis tyd dat hy sy kamer moet regruk. (Enige ma se droom, reg?) Maar op heavy metal-musiek. Ek boul vir hom ‘n preekbal. Van hoe ‘n mens Sondag met die nodige respek moet behandel.
Hy slat my met ‘n ses. Steek my ‘n teenpreek oor die sonde van stereotipering af en verander die musiek na ‘n Christen-”band” en hul swaarmetaalbomme. Uitgeboul!
Ek aanvaar my loesing met die bietjie waardigheid wat ek oor het. “Sien, dís mos nou skaflike musiek vir ‘n Sondagoggend,” giggel ek en blaas die aftog.
Ek’t wel die stryd teen ‘n sestienjarige verloor, maar ek kan nie anders as om ‘n bietjie trots op my tienerlummel te wees nie.
Want is dit dan nie hoe ons hom grootgemaak het nie? Om op sy voete te dink en, wanneer gepas, met ‘n sinvolle teenargument sy saak te stel. Nie als vir soetkoek op te vreet nie. En beslis nie voor gesag te buig net omdat gesag gesag is nie. Om onredelikheid en onregverdigheid met feite en nie emosie nie, uit te daag. En as jy met ‘n tikkie humor ‘n swakplek in iemand se sienswyse kan ontbloot, soveel te beter.
Daar’s ongetwyfeld ouers wat hul oë vir my en manlief se grootmaakfilosofie sal rol. Wat steeds vasklou aan ons ouers en hul ouers se “kinders word gesien, nie gehoor nie”. En wat – soos ons ouers en hul ouers – verstom staan as tieners skuins befoeterd heeltyd stroom-op swem terwyl hulle links en regs amok saai.
Rebelsheid ís en wás nog altyd deel van tienerwees; die uitdaging van die status quo hul leuse.
En daaroor wil hulle práát. En hulle wil gehóór word. Dis wanneer ons nie na hulle wil luister nie, dat hulle ander maniere soek om gesíén te word, ongeag die gevolge.
Uiteraard is daar dikwels meer gate in hul argumente as nie. Hoe dan anders? Hulle het nie die voordeel van “hindsight” wat ons het nie; die lewe het hulle nog nie wys gebrei nie.
Maar dit beteken nie ons moet nie na hulle luister nie. In hierdie deurmekaar wêreld waarin hulle grootword, weet hulle meer van sekere goed as ons.
En ‘n lekker debat hou nie net die kommunikasiekanale wyd oop nie, dit versterk ook die dikwels brose band tussen tiener en ouer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie