No Image Caption

Beter as Bond - James Bond

WILLEM DE WET SKRYF:

Ek lees elke dag my belese vrind van Stinkvisbaai se baie opbeurende stories en gesprekke tussen hom en uil oor die land se verborge skatte en die pot goud wat dreig om enige oomblik op ons om te val en al daai lekker dinge, maar ek dink ons mis die bal totaal.

Ons gaan soek te ver na ons heil. Kêrels, dit lê oop en bloot voor ons. Ons lees elke dag daarvan en ons ervaar dit ook daagliks aan ons eie bas, soos die agbare pres. Cyril van ons buurland nou ook ervaar het. Ons sit met rou, geniale talent wat beur aan die stang om net losgelaat te word om ons land ryker te maak.

En ons hou aan om met kolonialistiese standaarde mense se deugde te meet aan hoe goed hulle somme kan maak en skryf. Ons frustreer die genieë deur sulke nuttelose maatstawwe in hul pad te plaas.

Stel jou voor, ’n Tsotsi van ’n onbekende village in die verre noorde infiltreer die buurland se binneste van binnekringe en privatiseer die president se miljoene onder sy stêre en tussen sy wagte uit sonder dat hy eers ’n vermoede van die onheil kry. Ons man van die “Land of the Brave” pak daai sakke vol geld, storm die naaste dorp en koop die nodige logistieke hulpmiddels om sy taak te volbring en maneuvreer met die openbare paaie onder die radar deur na die grens.

Daar gekom, word ’n haarfyn beplande klandestiene operasie van stapel gestuur om die grens oor te steek met die skat wat hy vir sy vaderland gaan haal het. Hy durf ’n onstuimige rivier aan en maak dit amper nie.

Die kant aangekom, sit hy daar op sy sak geld by ons immigrasie- en polisiebeamptes rond en zula ’n lift om hom verder te voer na sy eindbestemming. Die plan loop soos stroop.

Plaas hy sommer deur die hek ingekom het, dan sou die geld nie nat geword het nie, maar soos dit ’n goeie James Bond-draaiboek betaam, moet daar moeilike paaie gevat word om maklike goed reg te kry, sodat die storie die nodige wow-faktor het.

Ons gewapende magte ry die man die land vol, sonder dat hulle iets vermoed (?!), en vername politieke figure vat die aflosstok aan op bene tussen-in, sonder dat hulle enigiets vermoed(?!).

By sy bestemming aangekom, raak James Bond toe Robin Hood en koop ’n gastehuis, verskaf werk en maak die dorp se mense ryk. Wat ’n verhaal!

Arme Cyril kom eers veel later agter sy koekieblik se deksel staan skeef, maar dit is hopeloos te laat. Sy kamerade aan die ander kant is bitter kwaad oor hulle nie in die blik se inhoud kon deel voor Namibië se Johnny Bravo sy hande daarop gelê het nie, en hulle gaan hom aan sy potlood ophang oor die onverantwoordelike verdeling van hul erfregte.

Daar sit selle vol nog sulke vindingryke manne hier in ons land en word vet op belastingbetalers se brood en swart tee en vermors hul talente en tyd. Hoekom maak ons nie die hekke oop en gee elkeen van daai Einsteins ’n eenrigtingvliegkaartjie na ’n bestemming met ’n president, met ’n plaas, met ’n Monopoly-stel onder die bed en taak hulle om die rykdomme vir ons land te gaan insamel nie? Ons stuur al die POL-bakkies wat nog loop grense toe om die manne se eskort te vergemaklik en taak die GRN-karre om op bystand te wees waar daar logistieke probleme mag ontstaan.

Ons reël dat hulle eers hier by Staatshuis ontvang en onthaal word en dan reserveer ons vir hulle die GRN-poste van hul keuse met die volgende skommeling wat plaasvind in die boonste rakke. Manne om op trots te wees en voorbeelde vir die land se gepeupel.

Hulle gaan ons baie geld spaar, want onderwys raak totaal oorbodig as ons die natuurlike talente vrye teuels gee. Daai deel van die begroting kan aangewend word om nog plase op te koop vir die weermag, Duitse motors vir die Robin Hoods in hul nuwe ampte en so aan.

Die filmkommissie kan ook van daai onderwysgeld vat en ’n movie maak wat die James Bonds van die verlede soos amateur Penkop-voortrekkertjies sal laat lyk, en nog miljoene vir die land sal laat inrol.

Met ons eie held in die hoofrol, ’n 100% Namibiese draaiboek en akteurs, op eie bodem geskiet vol opvoedkundige ­intervensies vir ander aspirant-Bonds.

Manne, hou op om te droom oor tegnologiese oplossings waarin die vloekwoord werk verskyn. Fokus op hierdie talent en die wonderwerke sal spontaan plaasvind.

Ek hoor pres. Cyril het sy ekskollega van Amerika geskakel en soek sy bloudrukke vir die Mexikaanse muur. Die wat nog Suid-Afrika wou sien, sal moet roer, tyd raak min.

Kommentaar

Sakkie Prinsloo 2 Jaar Gelede 13 June 2022

Man dit was nou voorwaar n bakgat opinie. Dankie Willem.!!

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!