Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Bly sterk in stryd teen MIV/vigs

BENNIE BOBEJÉ SKRYF:

Vandat MIV/vigs in die vroeë tagtigerjare gesig gewys het, het gevalle en sterftes wêreldwyd teen ’n snelle pas toegeneem in vernaam Suider-Afrika, waarvan Namibië deel is.

Tans is daar ’n bietjie meer as 200 000 Namibiërs wat met dié sindroom saamleef. MIV/vigs is tans die hoofoorsaak van sterftes in Namibië aldus CDC Namibië. Ten spyte daarvan bied die moderne wetenskap, navorsing, tegnologie en geneeskunde hoop vir miljoene pasiënte wêreldwyd, met dramatiese vooruitgang in Namibië.

Die vraag is, waar staan ons as individue en gemeenskap in die stryd teen hierdie bestuurbare siekte?

Namibië vaar tans beter as UNAids se 90:90:90-doelwit vir 2020, wat beteken dat 95% Namibiërs vir MIV getoets is, 95% van getoetste gevalle op ARV-behandeling is, en 92% van hulle wat mediese behandeling en sorg ontvang, se viruslading is onder beheer (2021).

Dis ’n reuseprestasie vir Namibië waarop ons trots moet wees. Dit is ook goeie nuus in dié sin dat groot vordering gemaak is deur nasionale openbare gesondheidsprogramme in terme van bewusmaking, voorkoming, behandeling en sorg, siektebestuur, monitering, dataversameling, navorsing, respons en dokumentering op die gebied van MIV/vigs, wat te danke is aan politieke wil en toewyding, internasionale samewerking, regeringsbesteding en buitelandse skenkings deur vernaam die VSA deur hul Pepfar-program, waarvoor Namibiërs oneindig dankbaar is.

GEEN REDE VIR GERUSTHEID

Tog is daar beduidende eksterne, interne, interpersoonlike en intrapersoonlike dinamika en bedreigings wat hierdie goeie werk kan lamlê as ons nie almal saamwerk om dié epidemie suksesvol te bestry en verdere impakte as gevolg daarvan te voorkom nie.

’n Derde tipe MIV-virus is onlangs in Nederland ontdek, wat verder kan versprei soos voorspel word. Dit kan meer druk op regerings, nasionale mediese stelsels en programme, gemeenskappe, gesinne en individue plaas in terme van bestryding, gevalle, kostes en gepaardgaande sosioëkonomiese impakte op alle vlakke.

Om hierdie redes is dit nou meer as ooit belangrik dat ons onsself teen besmetting en herbesmetting beskerm deur die getroue ABC-metode – “Abstinence, Be faithful en Condomize” (weerhouding, getrouheid en kondoomgebruik), asook deur die dokter se instruksies nougeset te volg.

STIGMATISERINGDit is geen geheim dat ons mense teen MIV/vigslyers diskrimineer en hulle stigmatiseer nie.

Dit veroorsaak dat pasiënte nie vir toetsing, behandeling en opvolge gaan nie en die getroue inname van hul noodsaaklike medisyne vernalatig en selfs staak. Dis lewensgevaarlik en moet onmiddellik stop, want MIV diskrimineer teen niemand nie.

Almal en elkeen is ’n potensiële teiken. Ons almal word een of ander tyd geïnfekteer of affekteer.

Daarbenewens is MIV/vigs ’n bydraende faktor in Covid-19- en TB-verwante sterftes.

Skaamte en vrees vir skande en stigma is vername vyande vir almal van ons in terme van MIV/vigs. Teen hierdie tyd behoort jy te weet dat MIV bloot ’n virus soos enige ander, byvoorbeeld die verkoue-, griep- of coronavirus.

Vigs is behandelbaar, wat beteken dis nie die einde van jou lewe nie – jy kan stokoud word en ’n sinvolle lewe lei, solank jy doen wat jy moet. Dinge soos toetsing, berading en verskillende intervensies het dramaties gevorder.

Andere veg baie hard vir jou en my gesondheid. Óns moet ook dringend die stryd teen MIV/vigs proaktief betree vir ons behoud.

OLIE OP DIE VUURAlkohol en middelemisbruik dra beduidend by tot die veront­agsaming van mediese instruksies en onverantwoordelike seksuele gedrag. DIt veroorsaak dat die viruslading in individue, groepe en gemeenskappe skerp opwaarts skiet en pasiënte se CD4-selle na gevaarlike vlakke daal, wat tot siekteoordrag en verdere infeksies en siektes en uiteindelik die dood mag lei.

Lede van die LGBTQI-gemeenskap en ander sleutelbevolkings soos gevangenes, mynwerkers, skoolkinders en soldate in barrakke en hostelle, vragmotorbestuurders en sekswerkers en minderheidsgroepe soos ware inheemses (Khoesan - Basters, Kleurlinge, Nama en San) en ander weerbares soos die Himba en mense met albinisme en gestremdhede staar verskeie ineenvloeiende maat­skaplike uitdagings in die gesig.

Van hulle ervaar daagliks geweld, aggressie, homofobie, rassisme, seksisme en ander onsmaaklikhede, wat mag veroorsaak dat hulle nie toegang tot die nodige dienste en voorsorgmaatreëls kry of wil hê nie. Jou ondersteuning aan hulle is kardinaal en verdere uitsluiting, diskriminasie, verdrukking en stigmatisering is ongevraagd. Almal kan ’n sleutelrol speel in die bekamping van MIV/vigs.

DIE GEWELDSGOLFDeur wydverspreide endemiese geweld en mishandeling aan huis en daarbuite, word hulplyne en toegang tot behandeling en sorg vir baie van ons mense afgesny. ’n Dringende behoefte bestaan dat hierdie gruwels, wat die vinnig opwaartse groei van MIV/vigs aanhelp, saam deur ons almal aangespreek word met die aandag wat dit verdien. Gemeenskaps­leiers moet ook begin stem dik maak.

Ons moet almal soos een man saamstaan in die stryd en lyers en geraakte gesinne moreel ondersteun en beskerm en nie hul stryd nog hewiger maak nie.

Ons weet self nie wat môre vir ons kan bring nie – dalk in dieselfde bootjie van stres, skok, vrees, kommer, skaamte en ’n hordes ander gemengde gevoelens en impakte soos ’n broodwinner wat wegval, haweloosheid, weesheid, kinderbemande huisgesinne, vroeë skoolverlating, powere skoolopvoeding, laagbesoldigde of geen werk, armoede en honger, weerloosheid, onsekerheid, volslae wanhoop, maatskaplike euwels en misdaad.

Dit is hoogtyd dat ons vir mekaar bid, mekaar aanpraat, mekaar dra en verdra, mekaar ondersteun, mekaar se stukkies optel en aanmekaar weef en saam aanbeweeg, mekaar se privaatheid en menswaardigheid respekteer en beskerm, en toesien dat lyers hul behandeling getrou en sonder vrees of skaamte en sonder toestemming of belemmering volg, want dalk, net dalk, kan dit môre-oormôre jy of jou ouma en oupa of ma en pa of broer en suster of lewensmaat of kind of vriend of kollega wees.

HOE KAN ONS HELP?Gaan vir gereelde toetsing. Volg die ABC. Kom instruksies na. Vra ’n lyer hoe jy hom/haar kan ondersteun. Vind by jou kliniek of dokter uit hoe jy kan help. Hoor by jou berader by die kliniek waar en hoe jy vir hulp kan aanklop. Leer aanlyn meer oor stigma en vertroulikheid.

Jaag jou drome na en leef voluit. Vertrou op God. Ons het groot hoop. Hoop beskaam nooit.

MIV-toetse, -teenmiddels en ander -intervensies is uiters duur en sou normaalweg onbekostigbaar vir Namibiërs wees sonder buitelandse hulp. Die gewone man op straat sonder ’n mediese fonds kan dit nooit bekostig nie en sou letterlik die dood sonder regeringsbystand in die gesig staar. Selfs vir hulle met ’n mediese fonds word dit algaande onbekostigbaar aangesien hul voordele mettertyd uitgeput raak. Dán is dit net die regering wat deur God se genade, oorbly. Wees dus meer dankbaar.

Ons het baie om voor dankbaar te wees: Die regering se toewyding, die Amerikaanse en Namibiese belastingbetalers se bydraes, Pepfar en hul Namibiese nieregeringsorganisasies se mildelike bydraes en insae, en die mediese voetsoldate - gesondheidsassistente, ­beraders, verpleegpersoneel, dokters, ­aptekers, verwysingsdienspersoneel, dataklerke, programmonitors en ­besluitnemers.

Ons salueer hulle vir hul onverpoosde onbaatsugtige diens aan hulpbehoewende Namibiërs. Mag God hulle ryklik seën.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer