No Image Caption

Deurnagradio

Dani Booysen
BENNIE BOBEJÉ SKRYF:

Ek is 'n regte naguil wat graag snags na ons Afrikaanse radiostasies luister terwyl ek besig met projekte is.

Wie ook al Maandagaand se musiek op Hartklop FM opgestel het, het uitstekende werk gedoen in dié sin dat dit nie 'n bepaalde agenda bevorder het nie en bloot ligte vermaak verskaf het. Dankie daarvoor, want niemand is deur die loop van die nag lus vir swaar onderwerpe nie.

Dit is ook op enige tyd ongevraagd om sekere boodskappe, byvoorbeeld oor taal en kultuur, in ons kele af te dwing of met ons koppe te smokkel. Ons kan nie ekslusief sekere Afrikaanse musiekgenres en kunstenaars, asook sekere literêre kultuur bevorder nie.

Maandagaand se samestelling was inderdaad gebalanseerd in terme van kunstenaars, musiekgenres en ernstigheidsgraad van temas. Hier en daar was daar gepaste snaakse liedjies en selfs 'n nostaltiese Kerslied wat die koue so bietjie verdryf het. As net 'n bepaalde genre, kultuur en/of kunstenaars aansienlike lugtyd ontvang, beteken dit verdere finansiële voordeel deur tantieme. Té veel geld vloei so landuit.

Deurnagradio dien verskeie doele: om nagwerkers wakker te hou, om as geselskap te dien om lang vervelige en stil ure om te kry, om lang paaie korter te maak, en om musiekgenot te verskaf, benewens andere. Daar behoort in almal se smake, behoeftes, belang en kulture voorsien te word om nasionale versoening te bevorder. Hierdie ideaal moet deurgaans in alle programme en musiek gewaar word en die diversiteit van Afrikaanse gemeenskappe in Namibië moet weerspieël word.

Dit behoort ons almal se "hartklop" te wees om brûe te bou.

Speel asseblief ook meer musiek uit bruin genres en dié van ons eie kunstenaars en gee plaaslike kunstenaars meer lugtyd.

Geluk aan omroepers wat 'n pligsbesef koester om nasiebou te kataliseer. Doen so voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer