Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Deurpad se spook loop ná dekades weer

Dani Booysen
ANNATJIE LOUW VAN KLEIN-WINDHOEK SKRYF:

Die 50-jaar oue spook van ‘n grootpad deur die Klein-Windhoekvallei loop klaarbliklik steeds.

‘n Persoon wat ‘n erf in Nelson Mandela-rylaan wou verkoop, is onlangs deur die munisipaliteit gekeer omdat dit geproklameerde grond is.

Dit val in die gebied van die sogenaamde Northern Through Way [NTW]. Die basiese beplanning van hierdie deurweg is al in 1972 deur Windhoek se stadsraad goedgekeur met resolusie no. 500/09.72.

In 1980 het Windhoekers ‘n protes-aksie teen die pad van stapel gestuur. Dis gevolg deur ‘n paar jaar van stilte oor die saak, maar in 1994 was dit terug op die agenda van die stadsraad.

‘n Nuwe aksiegroep het toe met ‘n petisieveldtog teen die NTW begin - wat deur die destydse burgemeester, me. Vivienne Graig, in ‘n raadsvergadering as “a storm in a teacup” afgemaak is. Desondanks is die petisie op 20 Mei 1994 met 2 166 name aan die stadsraad oorhandig. Windhoek het toe 168 000 inwoners gehad.

Nog ‘n tydperk van stilte het gevolg ... Maar intussen het veral drie veranderings plaasgevind wat die oënskynlik hangende saak raak:

1. Die Amerikaners wat bou op die hoek van Metjestraat en Nelson Mandela-rylaan het bygekom as ‘n belangegroep. Die NTW-roeteplan van Januarie 1994 (PE-1-94 A) toon duidelik hoe die punt van hul groot erf 353 afgesny word en die pad reg teen hul eiendom verbyloop.

(Die inwoner van Nelson Mandela-rylaan na wie hierbo verwys word, woon naby die Amerikaners.)

2. Waar die aksiegroep van 1994 vir twee maande mense by werk en huis besoek het, kan ‘n petisieveldtog nou elektronies gevoer word. Dit het die potensiaal om duisende mense binne dae te bereik.

3. In die afgelope twee dekades is mense ernstig bewus gemaak van die invloed van hul aksies op die toekoms van planeet-aarde. Die Klein-Windhoekrivier loop vir kilometers in ‘n natuurlike groen gordel langs die beplande NTW verby. Dit word as “future canal” op die kaart PE-1-94 A aangedui.

Teen 1994 is nog geen studie gedoen oor die potensiële impak van die NTW op die omgewing nie.

Wat betref die Klein-Windhoekrivier is ‘n les is te leer uit die verwoestende vloed van 25 Januarie 1981 in Laingsburg in die Wes-Kaap, waar ‘n rivier met woedende waters ‘n ou loop kom terugeis het.

Die invloed van die beplande NTW-kanaal op die wilde voëls in die boomryke Klein-Windhoekvallei spreek vanself. ‘n Windhoeker het oor tyd heen daar 115 (31%) van die 367 binnelandse spesies waargeneem wat op ‘n Namibiese ornitologiese veldkaart aangedui word.

‘n Lys is in 1992 deur die munisipaliteit verskaf van sowat 550 erwe wat direk geraak sou word deur padwerke in die groter Windhoek. In Klein-Windhoek is twintig erwe in Klein-Windhoekweg (nou Nelson Mandela-rylaan) gelys met erf 353 heel eerste.

In Ludwigstraat is vyftien erwe gelys. Saam met Hebenstreitstraat s’n beslaan dit ‘n hele blok.

Ná 50 jaar moet die onuitvoerbaarheid van die NTW tog al duidelik wees.

Waar eindig die magte van die munisipaliteit en begin die regte van die inwoners? Wat sou ‘n mens van die munisipaliteit wou vra in ‘n nuwe veldtog teen die NTW?

Verwyder die swaard van Damokles wat al so lank oor die koppe van Windhoekers hang. Deproklameer die NTW nou!

[Republikein wag op die munisipale owerheid se antwoorde in verband met die kwessie. - Redakteur]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer