Briewe
Briewe

Die handdruk

Sanet Pearson
ANONIEM SKRYF:

Een van die maatreëls deur owerheidsweë toegepas om die verspreiding van die Covid-19-virus te voorkom, is om sosiale afstand te hou.

Sorg dat daar ten minste een en ’n halwe meter spasie is tussen jou en ’n ander persoon; so is ons beveel. Weerhou jou van onnodige menslike aanraking. So is ’n eeueoue manier van groet – die handdruk – tydelik onhandig gemaak. In plaas van ’n stewige handdruk het ons mekaar ge-haai-faaif, ge-knukkel, of ge-elmboog.

Wel, Covid-19 het gekom en (hopelik) gegaan en ons lewens het, min of meer, tot die normale gang van dinge teruggekeer. Al die moenies van daardie uiterste beproewingstyd het weggeval, en die handdruk het hom (ongelukkig) hartlik-groetend weer tussen ons kom vestig.

In ’n vorige nering was ek vir jare gemoeid met maatreëls ter voorkoming van oordraagbare siektes. Een van hierdie maatreëls was die inspeksie van voedselpersele om toe te sien dat basiese gesondheidsregulasies nagekom word. ’n Tipiese verloop van so ’n besoek is as volg: “Meneer/mevrou, ek is so en so en wil graag monsters neem van alle werkstuie en -oppervlaktes op u perseel wat met die voorbereiding, berging en verkoop van voedsel verband hou. Met u toestemming wil ek vandag graag ’n swab neem van u hande.”

Ek gaan dan voort en beweeg die katoenpluisie sorgvuldig oor die hande en onder die naels van die voedselhanteerder. Daarna bestudeer ek die monsters onder ’n vergrootglas. So het ek al op merkwaardige euwels afgekom en geleer hoeveel gevaarlike bakterie mense op hul hande met hulle saam kan dra. ’n Organisme genaamd e-coli wys dat die hande in kontak was met menslike uitskeiding. Moontlik was daar ’n besoek aan die toilet, waarna die hande nie, of na behore, gewas is nie. So word die bakterie van die toilet deur die hande tot die voedsel vir menslike gebruik oorgedra en kan dit lei tot voedselvergiftiging of die oordrag van ander siektes. Vergewe my hiervoor, maar ek dink aan ’n gesegde “van die stront tot in die mond maak die hele liggaam ongesond”. Daar is nog talle ander organismes wat op hierdie wyses opgemerk is. Staphylococcus aureus, byvoorbeeld, is ’n aanduiding dat die kok ’n septiese wond op sy liggaam het, daaraan geraak het, en sodoende die etter daarvan saam met die heerlike T-been vir jou in die restaurant bedien.

So kan ek ad infinitum aangaan, maar ek wil geensins die leser verveel met vakkundige terme nie. Die punt wat ek graag wil maak, is dat die kriepie krôlies op mense se hande vele onrusbarende gevolge in kan hou. Die Covid-19-virus is maar een.

Ek stap vanoggend straat af. ’n Man kom my tegemoet, en voor ek my kon kry, gee hy sy hand vir my. En ek wonder. Waaraan het die man alles aan gevat voor hy my hand kom skud het? Wanneer laas het hy sy hande gewas? Behalwe sy hand se vriendskaplike druk, wat het ek nog van hom gekry? ’n Doodsvonnis?

Die bedelaar op die sypaadjie voor die supermark. My hand soek in my sak vir ’n munt of wat. Ek gee dit vir hom. Hy neem dit gretig. Twee of drie stukke munt. En wat kry hy nog van my af?

Soos ek reeds gesê het Covid-19 het ons hopelik verlaat en die maatreëls daarteen is opgehef. Maar die verbod op die skud van hande is een maatreël wat gerus maar kon gebly het.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!