Praat Saam Briewe
Praat Saam Briewe

Die rotte in ons lewens

WILLEM DE WET SKRYF:

In ’n stadium die afgelope naweek betrap ek myself in ’n introspektiewe staat met ’n hengse frons tussen my oë.

Die TV is aan en die Stormers speel, maar ek sien niks en ek hoor niks. Die bier in my hand is ál warm en daar swem ’n besope vlieg in. Die huismense en die troeteldiere los my alleen, loop draaie om my!

Ek praat met myself en ek vra harde vrae, maar die antwoorde wil nie lekker word nie, dit bly donker en swaar en negatief. Ek praat myself hard aan oor ek nog nie my houding teenoor die nuwe golwe van verandering kon verander en positief raak oor die waterstofpotensiaal, Recon se olieboordery, en natuurlik Leonard se uraanvooruitsigte nie. Hoekom bly ek agter en hoekom is ek huiwerig om myself toe te laat om deel te neem, en uit te sien na die nuwe ontginbare potensiaal?

Ek kyk rond vir positiewe jong nuwe lente uitloopsels, om my gemoed te lig, maar rondom my in my denkwolk staan daar net groot lelike spoke wat sinies glimlag, want hulle weet waar my gemoed vandaan kom. Hulle weet hoekom alles in ons klein en pragtige land Namibië met agterdog bejeën word en halfhartige deelname ontlok, en hulle weet ook hoekom daar ’n wolk van onsekerheid hang oor enige nuwe en mooi gedagtes van watter aard ookal, om ons ekonomie te ontsluit en die man op straat trots te maak.

Die nuwe politiese elite, tenderpreneurs, amptenary en goed gekonnekteerdes is besig om ons en ons land te breek, want as hulle nie die hoof bevoordeeldes uit enige vooruitgang kan wees nie, kom daar niks van nie, en as ons dalk die karretjie opgestart kry sal hulle hom tot stilstand doodbloei en besteel in so ’n mate dat hy nie eens sy eerste stel finansiële state sal kan voorlë nie, want die geld sal op wees voor ons daar kom.

So lê die dooie rotte die vlaktes vol. Fish-rot, rail-rot, diamond-rot, lokomotief-rot, behuising-rot, tender-rot, plaas-rot, bank-rot, Air Namibia-rot, Covid-rot en nog vele ander wat nog onder die lappe toegegooi is en onder sitkamerbanke weggesteek lê en wag om son te sien. En so verrot ons skole, hospitale, howe, polisiekantore, militêre basisse, vliegvelde, sportvelde en wat nog alles as ’n direkte gevolg van die posbekleërs, ampsdraers en belangrikes se fokus op die koekieblik, in plaas daarvan om die hardverdiende volksgelde aan te wend tot voordeel van die land en sy mense.

Elkeen steel net vir homself en hulle vorm bendes wat hul gesamentlike breinkrag doelgerig aanwend om die nasie van ’n toekoms te beroof, en hulle is nie eers beskeie oor hul openbare plundering van die nasie se kostrommel nie. Nee, hulle ry die nuutste karre en bly in die duurste huise, het plase en reis die wêreld vol, en dit met die geld wat met ’n ordentlike opvoeding, ’n huis, ’n hospitaalbed, ’n werk en kos in die mond aan ’n arm Namibiër ’n geleentheid op die lewe moes bied. Skaamteloos, entitled en arrogant plunder dit voort en die man op straat bly net waar hy is.

Nie een van die huidige leierskorps gee my ’n rede om ’n straat na hulle te vernoem of ’n standbeeld te bou vir hul positiewe bydraes nie, maar hulle gee my wel baie redes om van die straatname wat reeds toegeken is, te verwyder, en die strate bloot nommers te gee wat geen verbintenis aan ’n skande kan hê nie.

Ek sal eerder die straatnaamverandering se geld vir ’n desperate asdromkrapper op ’n Sondagaand buite my hek gee! ’n Straatnaam verandering sit nie kos in daai man se mond nie, en dit maak hom ook nie trots nie. Ek ween in my hart as ek dwarsdeur die nag kort-kort wakker word van die geritsel in my klaar, menigmaal deursoekte asdrom, waar nog ’n hoopvolle krap, in die hoop om iets te vind om hom krag te gee om die uitdagings van môre die hoof te kan bied.

Hartseer!

Dit my liewe mede-Namibiërs is die rede hoekom ek huiwerig is om opgewonde te raak, want ons leiers het my nog geen rede gegee om positief te wees oor die wolkies met die silwer randjies nie. Hulle is die enkele grootste oorsaak daarvan dat Namibië en Namibiers nie uit die stof opgestaan kry nie. Individue verryk hulself ten koste van die land en sy mense en daar is geen keer daaraan nie. Dit woed voort soos ’n veldbrand en laat net verskroeide aarde, verbrande geleenthede en weemoed in die rookwolk van beloftes en mislukkings agter.

Ek koop slaafs elke môre die koerant en hou asem op dat die nuwe geleenthede nie ook een môre skielik op die voorblad gaan verskyn onder ’n vet gedrukte hoof met ’n slegte boodskap wat die nasie meedeel dat nog ’n geleentheid nou “rot”-status verwerf het nie. Ek hou asem op dat daar nie weer ’n klomp lyke in die pad lê met enkele, skielik ryk individue, wat as verdagtes uitgemaak word en op vol salaris tot aan die einde van hul dae op belastingbetalers se geld onderhou sal word, om een maal per jaar ’n afgewaterde skynaanval in ’n hof te moet gaan bywoon, tot groot vermaak van die medebevoordeeldes uit die nuwe rotskandaal nie. Ek hou asem op dat een van die geleenthede wel die man op straat ook gaan bereik en die wind van verandering gaan laat begin waai. Ek hou asem op, maar ek raak nou blou in die gesig en ek sien nie tekens daarvan dat my asem-ophouery enige verskil gaan maak nie.

Ek het nie meer baie tyd oor nie maar glo my, ek bid dat ek in my lewe die eer sal hê om net een ekonomiese, rotlose, en onbaatsugtige suksesprojek uit ons leiers te kan sien opstaan en tot werklikheid kom. Ek bly versigtig optimisties maar die geskiedenis spreek my aan en verwys my na statistiek, wat ongelukkig nie my optimisme steun nie.

Ek het dit al gevra en ek vra dit weer, Kan Namibiërs asb. met die volgende verkiesing stem met hul verstand en nie met partylojaliteit, emosie en eng belofte moraliteit nie. Kry asb. mense in plek wat Namibië as ’n trotse en suksesvolle ligstraal uit Afrika, die wêreld se aandag kan laat trek om nog nuwe ekonomiese, en ander beleggings te kom maak, om ons mense se stryd te verlig, en die Harambee- en nasiebou-retoriek tot wording te bring.

Ongelukkig het kapitaal en investering ’n keuse, en die keuses sal ons nie toeval solank ons nie die potensiële beleggers vertroue gee en die resultate laat proe van hul keuse om Namibië te kies en te help omvorm, na dit wat ons kan wees nie. Solank dit gaan oor individue sal ons werk met individue en die groter keuses sal ons verby gaan.

Maak ons positief en trots asseblief! Ek wil graag nog deel wees van die suksesse en nie net van die rotte nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!