Anna-Marie Steenkamp
Anna-Marie Steenkamp

Die stem maak die man

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Nou die Sondagaand (jammer dit was so laat) het NBC ’n program oor die Spaanse tenoor Placido Domingo uitgesaai.



Dié reus (letterlik en figuurlik) van die operawêreld sing saam met almal in die musiekwêreld, byvoorbeeld popsanger John Denver.



Of miskien is dit juister om te sê hy sing bo-oor John Denver. Baie musieksnobs sê as die gehalte van iemand se sang nie met dié van Placido Domingo vergelykbaar is nie, kán hy nie sing nie. Ander maak darem ’n klein toegewing: as ’n sanger nie ten minste soos Luciano Pavarotti klink nie, moet hy sy mond hou.



Kom soprane ter sprake, is Kiri Te Kanawa die norm. Soprane wat nie teen haar opweeg nie, moet gaan bedopmaak en badwas. Jong, vroulike aanhangers plak nie prente van vleispaleise teen hulle mure nie. Nee, hulle versamel prente van Placido Domingo.



In plaas daarvan om prente teen die mure te hang van groot geeste uit hulle vak- en beroepswêreld, pryk prente van Placido Domingo teen hulle mure. In hulle sitkamers en slaapkamers hang daar nie prente van N.P. van Wyk Louw en Einstein nie, maar van Placido Domingo.



Toets Domingo-verslaafdes gerus. Hulle ken die operamusiek wat hy sing volgens die name van die opera-arias (in Italiaans, Frans en Duits), die operas waaruit dit kom én die komponiste uit hulle kop.



In plaas daarvan om vrystories deur Erna Murray of Danielle Steele te lees, verslind hulle opera-intriges. En hulle raak heel geleerd oor Alfredo in La traviata, Manrico in Il trovatore en Radames in Aïda. Want, verdedig hulle hulle verering, hulle hóú van operamusiek. Eintlik hou hulle van Placido Domingo. Maar hulle hou ’n stewige argument gereed: as die res van die bevolking na ’n verskynsel soos Kitaro kan luister, kan hulle na ’n fenomeen soos Domingo luister.



Een Domingo-aanhanger erken openlik aan vriend en vyand dat sy glad nie van popmusiek hou nie, laat staan nog daarna luister.



Jazz het ten minste nog tegniek, maar klink kakofonies. Maar popmusiek het nóg tegniek nóg strelende klank. Maar dié persoon besit wel één popmusiekplaat. Placido Domingo is die sanger.



’n Ander Domingo-vereerder vertel dat sy jare gelede in ’n stad gewerk het waar min mense vir iets anders behalwe geld respek gehad het. Een teetyd het haar held ter sprake gekom.



Die onderwerp het haar ­dadelik welsprekend gemaak.



“Jy sê hy kan sy skoene maar onder jou bed instoot,” het ’n geamuseerde kollega gesê-vra. Waarop haar onnadenkende reaksie was:



“Hy kan méér as sy skoene onder my bed inskuif.”



Die (hoflike) kollega het glo niks gesê nie. Ag ja. “Dein ist mein ganzes Herz.”



– 14 Maart 1995

Kommentaar

Republikein 2025-03-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer