Audreygroot
Audreygroot

Ek sê maar net

Alles moet begin by jou
Audrey van der Westhuizen
Vandag wil ek graag praat met jongmense wat voel dat almal teen hulle gedraai het en dat hulle nie meer wil probeer om hul eie omstandighede te verbeter nie.

Ek wil vir niemand preek nie, want ek is geen leraar of jeugpredikant nie. Op enige goeie dag en in watter omstandighede ook al, is ek slegs iemand se dogter, ’n ma van drie volwassenes en die ouma van drie woelwaters van verskillende ouderdomme. Ten minste kan ek sê dat ek al ’n paar dinge gesien en beleef het.

So, dikwels kom ek op my lewenspad ’n jongmens teë wat moed opgegee het om te probeer vorentoe kom. Of die persoon nou self verantwoordelik is vir die ellende wat oor hom/haar gekom het en daarom nou teen die grond is, en of ’n ander mense of omstandighede hulle daar neergesmyt het.

Jongmens, wat ook al jou getref het of van jou weggeneem is op jou lewenspad - ek wil vandag vir jou sê dat jy dit aan jouself verskuldig is om steeds die lewe reguit in die oë te kyk en jouself op te hef.

Stof die moedeloosheid van jou lyf af, jaag jou selfbejammerende mismoedigheid in sy kas in en sit jou voet neer - eers een dan die ander een voor hom en kom daar weg. Moenie dat ‘n vermoede oor hoe mense jou verag of hoe niemand ooit weer vir jou ‘n kans gaan gee nie, jou permanent plat druk nie.

As jy vermoed jy ly aan depressie of dat jou selfbeeld nooit weer gaan regkom nie, staan daar waar jy is en vra (luidkeels as dit moet) vir die Here watter pad om te vat, maar probeer ten minste by ’n staatshospitaal of kliniek uit te kom en hulp te kry vir enige mediese probleme. Met ’n stukkende lyf of gees gaan jy ook nie maklik regkom nie - jy sal dalk ook nie die deur of geleentheid wat oop voor jou staan raaksien nie, bloot omdat jy in geen toestand is om dit te doen nie.

Gaan praat met daardie mense wat tot baie onlangs nog steeds vir jou gesê het hulle gee vir jou om. Vra vir hulp al gee iemand jou net raad oor hoe om jou lewe terug te vat en die gees van moedeloosheid te verdryf, dan het jy reeds ’n begin op die regte pad gemaak.

Wees verseker dat selfs al het jy jouself oor die jare wysgemaak dat jy nooit iewers gaan kom nie, is daar steeds ’n uitweg. Die lewe is onregverdig ja, mense kan gemeen wees ja, maar nie almal is mislik en wil jou ondergang bewerkstellig nie. Net omdat iemand jou verwerp het, beteken nie die hele samelewing het jou nou verwerp nie.

Daar is baie ander mense op aarde wat jou nie eers ken nie en niks van jou weet nie. Begin vandag om jouself geestelik en liggaamlik te versorg: bad en trek jou beste klere en skoene aan, dan gee jy nie die verkeerde prentjie vir die wêreld daar buite nie, want ek belowe jou, mense kan jou net oordeel op die prentjie wat jy van jouself vir hulle wys.

As jy jouself begin versorg, gaan jy vanselfsprekend versorg lyk vir mense wat jou teëkom en as jy jou selfrespek na buite uitstraal sal enige swak behandeling wat die man op straat jou gee ook nie meer so maklik by hom opkom nie.

Wat ek eintlik graag wil sê: DIT MOET ALLES BEGIN BY JOU, want die lewe is onregverdig en jy moet self mense verkeerd bewys. Niemand anders kan (of sal) dit namens jou doen nie.

Kommentaar

Republikein 2025-03-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer