Briewe
Briewe

Essensie van kerkwees (Deel 1)

Mandy Rittmann
ANDRE MOUTON SKRYF:

Besinning oor die kern van kerkwees.

Die leierskap van die Namibiese NG Kerk is besig om ʼn voorlegging voor te berei vir die 2025

Sinode met die doel om ’n finale besluit te neem oor die beplande verbreking van bande met die

Algemene Sinode van die Suid-Afrikaanse NG Kerk.

Hierdie besluit is reeds voorafgegaan deur 'n besluit wat geneem is tydens die 2022 Sinode. Die vraagstuk wat tans voor die gemeentes gestel word, is nie óf ons moet wegbreek nie, maar eerder hoe dit behoort te geskied.

Dit is belangrik om, te midde van hierdie ontwikkelings, 'n oomblik te neem om te reflekteer oor die

kern van kerkwees en die rede vir die kerk se bestaan. As lede van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Namibië (NGKN), het ons die verantwoordelikheid, sowel as die reg, om self as individue te besin. Ons moet dus ons kerkrade ondersteun om in ooreenstemming met die Woord van God te handel en ons elkeen ons bydraes te lewer tot die finalisering van hierdie proses.

BEVESTIGING VAN BYBELSE GESAG

Die onwrikbare grondslag van ons kerkwees is die Skrifgesag. Dit vorm die basis van ons geloof

en praktyk, en binne die NG Kerk is daar geen twyfel oor die gesag van die Bybel nie. Ek deel

hierdie oortuiging. Tog moet ons besef dat daar van tyd tot tyd verskille van mening mag wees

oor die interpretasie van die Bybel se boodskap.

Wanneer die kerk in veranderende tye tot ander besluite kom, beteken dit nie dat die gesag van die Skrif misken word of dat vorige geslagte verkeerd gehoor het of selfs dat die kerk wisselvallig is in haar besluite nie. Dit beteken ook nie dat die Bybel verander het nie. Dit is ons wat verander, ons kennis en omstandighede wat verander het. Ons mag en sal soms tot ander besluite as vorige geslagte kom, omdat ons verder en anders as hulle sien. Ons sien soms verder en anders as ons voorgangers, want ons staan op hulle skouers.

KLEM OP LIEFDE EN VERSOENING

Na aanleiding van die tugproses wat deur die Sinode van 2022 (Namibië) gelei is, of soos dit

genoem word in die besluit: “oproep tot diepgrondige bekering”, is dit noodsaaklik om te

herbesin oor die aard van tug en sy rol in die kerk.

Jesus se woorde in Matteus 18:15 is die kern van die kerklike tugproses. Hierin beklemtoon Hy die belangrikheid van 'n liefdevolle en privaat benadering wanneer 'n broeder of suster in sonde geval het. Die konteks van gemeenskap en eenheid, waarin Jesus teenwoordig is, onderstreep die noodsaaklikheid van 'n gees van versoening en liefde in tug.

Tug behoort nie 'n openbare politieke aangeleentheid te wees nie, maar 'n intieme uiting van gemeenskap in Christus. Die gees van vergifnis en versoening, soos deur Jesus geleer, behoort die sentrale fokus te wees van kerklike dissipline. Dit is nie 'n proses van vernedering nie, maar van liefdevolle herstel en versoening tussen broeders en susters.

Kritiese selfondersoek is 'n vereiste vir almal betrokke in die tugproses. Die roeping van die kerk

is om die genade van God aan alle mense te verkondig, en dit moet die riglyn wees in alle

kerklike besluite en optrede. Die genade van God is die krag wat die kerk in staat stel om soos

Hy bedoel het te funksioneer, en dit moet duidelik wees in die manier waarop die kerk optree en

besluite neem.

EENHEID EN DIVERSITEIT

Die NG Kerk bevestig sy roeping tot eenheid, heiligheid, 'n algemene christelike kerkwees, en

apostoliese getuienis, terwyl die oplossing van verskille binne die raamwerk van liefde

beklemtoon word.

Die wyse waarop ons verskille beleef en konflik binne die kerk hanteer, vorm 'n kritieke deel van ons getuienis as gelowiges. Ons kom sit saam aan 'n tafel waar ons, as geroepe kinders van die Here, binne die raamwerk van liefde mekaar ontmoet om ons verskille op te los. Op hierdie wyse word die Bybel die hoogste bron van gesag in die kerk, en dit lei tot 'n kerklike benadering wat duidelik onderskeibaar is van die wêreld om ons, omdat die kerk in sy essensie anders as die wêreld is.

In Romeine 14:1-23 roep Paulus die Christene in Rome op om hulle verskille te aanvaar. Sy boodskap is dat hulle hulleself so moet rig dat hulle nie op die verskille of partye fokus nie, maar op Jesus. Hierdie fokus op Jesus verander die dinamika van die gesprek waarin elkeen probeer om die ander te oortuig om soos hulle te dink en te handel, na 'n gesamentlike soeke om soos Christus te word (Efesiërs 5:21 – 6:9).

Die Bybel daag ons dus uit om na te dink oor die hantering van ons verskille, wat dikwels tot verdeeldheid lei wanneer ons op standpunte fokus eerder as om te besin oor wat dit beteken om onderdanig aan Christus te wees.

EENHEID IS DIE WIL VAN GOD

Die vorming van gemeenskappe is van kardinale belang vir die kerk as God se gestuurde in die

wêreld. Ons moet die eenheid van die kerk beskou as 'n saak van dodelike erns.

Paulus bepleit in Galasiërs 3:1-5 'n groepsbenadering, waar gelowiges hul geloof in hul gemeenskappe moet uitleef. In hierdie gemeenskappe moet gelowiges verantwoordelikheid neem vir mekaar se

geestelike ondersteuning en formasie, soos duidelik blyk uit die vele “mekaar” tekste in die

Nuwe Testament. Verdeeldheid en twis trek nie net 'n streep deur die eenheid van die kerk nie,

maar ook deur Jesus self. Die kwelvraag is of ons nie besig is om presies dit te doen met die

besluit wat voor ons lê nie. Die NG Kerk verklaar in ons Kerkorde dat ons “deur God Drie-enig

geroep is om deel te neem aan die missie van God in die wêreld”. Dit is tyd dat ons hierdie

roeping ernstig opneem, met die besef dat die bewaring eenheid 'n kritieke konsekwensie is van

hierdie roeping. Verdeeldheid in die kerk ondermyn die geloofwaardigheid van die gekruisigde

Jesus en moet dus ernstig aangespreek word. – Vervolg

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!