No Image Caption

Geestelike transformasie van die kerk (Deel 1 van 2)

Mandy Rittmann
PASTOOR BRIAN LOSPER SKRYF:

Die beste manier om die Nuwe Testamentiese konsep van “kerk of kerkwees” te verstaan is om aandag te skenk aan hoe dit ontstaan en verder ontwikkel het na aanleiding van skriftuurlike bewyse.

Daarvolgens is dit duidelik dat die “kerk” nie ’n gebou of organisasie is nie, maar die uitgeroepenes van God, vergader in Christus Jesus, bekragtig deur die Heilige Gees en daarvolgens deelagtig in die Koninkryk van God. Hierdie proses vorm die fondasie vanaf geboorte en die transformasie van die Gemeenskap van Gelowiges as die Nuwe Testamentiese Kerk.

Ekklesia is een van die belangrikste metafore wat in die Nuwe Testament gebruik word in die verstaan van die samestelling en doel van die Gemeenskap van Gelowiges.

Ekklesia verklaar dat God Sy mense uit-/oproep om in Sy teenwoordigheid te verskyn om sake rakende Koninkryk-uitbreiding te bespreek en om die kultuur van die Goddelike Koninkryk aan die wêreld bekend te maak. Dit is opmerklik dat die “Eerste Kerk” hierdie opdrag duidelik verstaan het en dus vergader het vir die bespreking van “Koninkryksbesigheid” en nie net om te “aanbid” soos ons dit vandag ken en doen nie.



MENSLIKE DENKWYSE

Hierdie manier van “Koninkryksbesigheid” bespreek, het geweldige afname begin toon namate die organiese kerk verander het in ’n organisasie en menslike bestuur oorgeneem het van die Heilige Gees. Menslike denkwyse het nou hoogty gevier ten koste van die kragtige bemagtiging van die Heilige Gees.

Hierdie tendens (menslike denkwyse) het drasties toegeneem na die Reformasie (Martin Luther en geselskap) deurdat teologiese denkwyses en tradisies die kerk verskeur het en derduisende mensgemaakte koninkrykies vorm aangeneem het. Dit is die dilemma waarin ons is.

Die kerktydperk het ons by ’n plek gebring waar ons verhouding met God op ons en ons behoefte gefokus is, terwyl die Koninkrykstydperk gaan oor die lewe met ewige perspektiewe wat gebaseer is op Hom en Sy Koninkryk.

Ons moet dus verstaan dat ons verhouding met God en Sy Koninkryk alleenlik betekenis het indien ons geroepe is om die buitelandse beleid van God in die wêreld te implementeer. Hiervolgens is ons opdrag duidelik: “Gaan as My gesante (verteenwoordigers/ambassadeurs) en verander die wêreldse kultuur en samelewing na ’n Koninkryksleefwyse. Dit is waarvoor Jesus kom sterwe het.

Ja, Sy reddingswerk was deel van die opdrag, maar dan ook om dit duidelik te maak dat ons geroep is as medewerkers in die Koninkryk van God om “Shalom” aan die wêreld te bring. – Vervolg



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer