Gesamentlike aanbidding
GERHARD MAHNE VAN KAAPSTAD SKRYF:
In die komende Algemene Sinode van die NG Kerk (15 tot 20 Oktober) se agenda op P75, onder die vraagteken-opskrif: “Gesamentlike Aanbidding?”, vra ’n taakspan dat NG-gemeentes saam met Moslems en ander gelowe moet aanbid. Ons word ook aangemoedig om sodanige aanbiddingsgeleenthede in ons kerkgeboue te reël. Dis waarskynlik om oor gedeelde, kwellende kwessies in die samelewing saam te bid. Die verslag vra tereg vir wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele. En dan die woorde “... die oordeel (word) aan God alleen oorgelaat”. Dis vir diegene wat oor die meriete van só iets mag twyfel. Is dit reg? Kan dit werk? Vir samewerking op so ’n diep vlak soos gebed is die vereiste dat daar diepliggende filosofiese en beginselooreenkomste tussen partye sal bestaan. ’n Man en meisie met reuse-beleidsverskille moenie trou nie, en politieke partye wie se leerstellige oortuigings radikaal verskil, kan nie in koalisies saamwerk nie. Moslems is dierbare mense, maar hulle leer hulle kinders daagliks ’n fundamentele Moslem-oortuiging: “Daar is ’n God, sy naam is Allah en hy het nie ’n seun nie” en Jode verwerp die feit dat Jesus die Christus is. Hieroor sê die Bybel weer: “Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nie; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in julle huis ontvang nie, en hom nie groet nie” (2 Joh: 9 -10); nie in julle huis ontvang en nie groet nie beteken om nie op godsdienstige vlak met diesulkes te verkeer en in dieselfde godsdienstige juk te trek nie. (2 Kor. 6:14). Maar nou wonder ’n mens, glo almal dan nie maar in dieselfde Skeppergod nie? Wel, godsdienste van alle tye bely ’n Skeppergod. In die antieke heidense Egipte was Ra die skeppergod en onder die Grieke was dit Phanes. Tog is daar vir Bybel-gelowiges net EEN God in wie se teenwoordigheid hulle mag leef en aanbid, en dít is Jahwêh wat Homself in en deur sy Seun Christus Jesus geopenbaar het. Gesamentlike gebed in díe geval is dus Bybelvreemd. ’n Volgende praktiese vraag is dan hoe Bybel-gelowiges in ’n land met gedeelde uitdagings teenoor mense van ander geloofsoortuigings moet optree. Wel, die Bybel sê: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word ...” (Fil. 4:5). Let wel, aan alle mense! Ons moet ook selfs vreemdelinge met liefde behandel – ’n liefde “soos vir jouself” (Lev.19:34). Bybelgelowiges is dus verplig tot vriendelikheid, hulpvaardigheid, bedagsaamheid en ware liefde teenoor ons Moslem-bure, Hindoes, Judaïste, Dinamiste, Animiste, toordokters of Boeddhiste en wie ook al. Deur só te lewe, skep ons van ons kant af welwillendheid en ’n omgewing waarin agting, respek en voorspoed kan gedy. Meer as dit druis in teen oordele wat die Here reeds in die Skrif geopenbaar het.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie