Briewe
Briewe

'Geskok tot in my binneste’

Mandy Rittmann
CHARMY SKRYF:

Hoe op aarde kan ’n ma – ’n groot vrou van 34 jaar – dit regkry om haar seun aan seksuele dade bloot te stel?

Ek is ’n ma van ’n 11-jarige seun en is tot in my binneste geskok oor wat gebeur het. Hoe bitter siek kan een mens wees? Hoe kry een mens dit reg om so iets te doen? Ek is opslag siek. Is daai bloedjies dan nie aan ons toevertrou om hulle te leer wat reg en verkeerd is nie? Is hulle dan nie vir ons gegee om die toekoms van ons land te word nie? Hoeveel sielkundige berading en genesing het die kind nie nou nodig nie?

Dis nie ’n vreemdeling wat dit aan hom gedoen het nie. Dis die mens wat God aan hom toevertrou het. Sy ma! Wat het geword van ons tien gebooie? Wat het geword van ons waardes, van ons menswees? Ons lewe reeds in so ’n duur, gejaagde lewe, waar daar reeds soveel seer is, waar ons nie meer mekaar respekteer nie, waar ons net kan sê wat ons wil, wanneer ons wil. Wat het geword van respek, van vertroue, maar bowenal van liefde? Ek is nie een wat oordeel nie, dis God se werk alleen, maar ek hoop sy ma gaan toegesluit word en daai sleutel ver weggegooi word.

Geen, maar geen kind moet deur dit gaan nie. Dit is net weer ’n skokgolf na die werklikheid, wat in ons eie land van melk en heuning aangaan. Mag God met elke ma en pa wees, wat nog glo aan reg en verkeerd. Wat nog glo die nasie kan gered word, want dit lê alles in ons as ouers se opvoeding.

Ons moet sorg dat die seer minder word, ons moet die pleisters op die wonde sit en dit soen, want dit sal gesond word. Ons is veronderstel om hulle liefde te wees. Ons is veronderstel om die toekomstige leiers van ons land op te voed en te leer. Ons is dan die voorbeeld.

Ek bid, glo en vertrou daai seuntjie word gesond, en ek hoop ’n goeie mamma gaan vir hom ’n pleister opsit, op sy seer hartjie soen, en hom die versekering gee dat hy gelief word. Mag hy die son op sy vel geniet as hy sokker speel of die seewater op sy voete voel. Mag sy kindwees weer terug aan hom gegee word.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer