Sanet de Swardt
Sanet de Swardt

Gratis wyn? Ek is nou daar

Sanet de Swardt
Om ’n reis te beplan, maak jou glo 8% gelukkiger.

’n Wetenskaplike studie het bewys selfs net die voorneme om op vakansie te gaan, maak vakansiegangers amper so gelukkig soos die reis self.

Dis ook glo bewys om met vakansie te gaan, kan jou risiko vir hartsiektes verminder. Wie is ek om te stry?

Volgens my behulpsame vriend Google word Spaans as die “gelukkigste” taal in die wêreld bestempel.

Miskien beïnvloed die taal wat jy praat jou meer as wat jy dink. ’n Studie van die top-10 mees gebruikte tale wêreldwyd – Engels, Mandaryns, Frans, Spaans, Portugees, Indonesies, Duits, Koreaans, Russies en Arabies – het getoon Spaans is die gelukkigste taal gevolg deur Portugees, Engels, Duits en Frans.

Met dit in gedagte is dit seker nie verbasend dat meer mense Frank­ryk as enige ander land besoek nie.

Volgens die Verenigde Nasies se Wêreldtoerisme-organisasie het dié Europese land 86,9 miljoen mense in 2017 verwelkom.

Spanje was die tweede gewildste bestemming met 81,8 miljoen besoekers, gevolg deur die Verenigde State (76,9 miljoen), China (60,7 miljoen) en Italië (58,3 miljoen).

Ek het weer vir Google ingespan en gaan soek vir nie alledaagse feite oor reis. Het jy geweet dit kos US$42 om op ’n afspraak in Kaïro uit te gaan, terwyl die afspraak jou US$202 in Zürich uit die sak sal jaar?

Noord-Korea en Kuba is die enigste lande waar jy nie Coca-Cola kan koop nie.

Japannese treine, wat na bewering die stiptelikste ter wêreld is, reik “vertragingsertifikate” aan passasiers uit as ‘n trein meer as vyf minute agter skedule is. Die dokument kan aan werkgewers of onderwysers gewys word om te verduidelik waarom die persoon laat is. Weet nie of dit hier sal werk nie.

Die klein dorpie Caldari di Ortona in Italië het ’n gratis wynfontein wat plaaslik vervaardigde wyn bied en oop is vir enigiemand.

Gratis wyn? Italië, wag vir my ek is op pad.

Frankryk dek 12 tydsones. Dit is meer as enige ander land. Die Verenigde State is tweede met 11, en Rusland derde met 9.

Het jy bietjie strandtyd nodig? Australië het meer as 10 000 strande. As jy lus is, kan jy vir meer as 27 jaar elke dag ’n nuwe strand besoek. Dit sal nou die lewe wees!

Mense wat in Mamungkukumpurangkuntjunya Hill, Australië, woon, het ‘n bietjie geduld nodig wanneer hulle hul tuisdorp se naam te spel. So ook die mense van Lake Chargoggagoggman-chauggagoggchaubunagungamaugg in Massachusetts en Tweebuffelsmeteen-skootmorsdoodgeskietfontein in Suid-Afrika.

Nie een van hulle het egter soveel inspanning nodig wanneer hulle hul adres neerpen as diegene wat in Taumatawhakatangihanga-koauauotamateaturipukakapikimaung-ahoronukupokaiwhenuakitanatahu, Nieu-Seeland, woon nie.

Met 85 letters lank is dit die langste pleknaam ter wêreld. Ek is skoon uitasem net om die name uit te spreek, wat nog van om dit te skryf.

En laastens, het jy ’n bietjie inspirasie nodig? Dit is ook bewys dat reis kreatiwiteit verhoog. Ek wens julle bon voyage toe met uitstekende gesondheid en hope inspirasie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!