No Image Caption

Hallo vreemdeling, ons is Maandag weer Namibiërs

Iréne-Mari van der Walt
Die vlaggies hang al voor die parlementstuine met die straat af en die vliegtuie vlieg reeds laag hier oor die hoofstad. Dit is weer sulke tyd – daar is belangrike mense hierheen op pad.

Ek maak myself maar solank gereed dat ek Vrydag soos ’n skiewie aangekyk gaan word deur belangrike mense wat gewoonlik vriendelik groet en hulle glad nie belangrik hou nie, want tot die ander belangrike mense weg is, is ek en jy vreemdelinge in ons eie land.

Ons almal weet dat ons paaie, wat met my en jou belastinggeld gebou en in stand gehou is, nie ons s'n is as daar ’n hooggeplaaste van ’n ander land op besoek is nie. Namibië is eintlik hulle land, ons weet dit net nie, want sodra daar ’n uitnodiging in ’n eksotiese kantoor aanvaar word, begin ons al paaie afbaken asof dit aan daardie mense behoort. Geen Namibiërs durf waag en hul voete daar sit nie, want dit is nie vir jóú nie, dit is vir ons besoekers. Jou blou ID-kaartjie beteken net mooi niks teenoor ’n diplomatieke paspoort nie, onthou dit net.

En wanneer Maandag aanbreek en die maroen en swart paspoortboekies is weer huis toe, gaan ons eers ’n bietjie in ’n hoekie gaan sit en dikbek wees. Die maatjies is nou weg en nou sit ons net met die pleb Namibiërs. Ai tog, dit moet so moeilik wees om belangrik te wees!

En vergeet daarvan om jou selfoon en jou data – waarop jy BTW betaal het – te gebruik wanneer ons eie belangrikes in die vertrek is, want waarvoor wil jy nou na enigiets anders wou kyk as die heel belangrikstes in die land? Dít nou te sê as jy hulle ooit kan sien deur die trop lyfwagte waarop daar aangedring word. Elke keer as ek amper platgetrap word deur iemand se lyfwagte, gaan krap ek eers in my binneste om seker te maak dat ek hulle nie wil leed aandoen nie. Natuurlik is die antwoord altyd nee, maar dan wonder ek of daar wel dié is wat aan hulself 'ja' antwoord op daardie vraag. Hoekom sou hulle dit híér voor al hierdie ooggetuies wou doen?

Is dit hoekom die belangrikes wat die media gewoonlik op die naam ken, skielik aan geheueverlies ly? Skrik hulle so vir die gedagte dat ons hulle wil seermaak dat hulle sommer heel vergeet?

Weet jy wat, dit moet my mediakaart wees. Hierdie kaartjie is ’n vereiste om onder meer die parlement en ander belangrike gebeure by te woon en is juis veronderstel om rêrige-êrige joernaliste van die res te skei en ons uitkenbaar te maak. Dalk is daardie foto net so skreeulelik dat hulle hulself koud skrik en sommer vergeet wie ek is. Ek moet sê ek het al beter gelyk.

Sies tog, dit is toe waarskynlik nie die besoekers se paspoorte nie, maar my eie identifikasie wat die fout is. Dalk lyk ek in daardie foto nie genoeg soos ’n belastingbetaler wat my deel doen of ’n kieser wat weer binnekort moet stembus toe gaan nie.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer