Otis Finck
Otis Finck

Hou kop, Harry

Otis Finck
Ek was Saterdag langs die bokskryt toe Harry Simon jr. deur die toue geklim het teen ’n Malawiese teenstander, Israel Kammwamba.

Dit was my derde keer om die belowende bokser van Walvisbaai in lewende lywe te kon sien boks.

Die vuiste het sommer uit die staanspoor geklap. Ek het gesien hoe die jong Simon vir Israel soos ’n vuurpyl getref het. Hy het met ’n vinnige en goed berekende sarsie skote teen die kop en liggaam, sy opponent in die tweede ronde neergevel.

Vir baie het Simon se oorwinning “te vinnig” geskied. Sommige boksliefhebbers was nog op pad na die geveg terwyl ander besig was om van buite af in te beweeg om die jongman in aksie te sien, toe is die geveg reeds verby.

Harry jr. se geveg het my aan Muhammad (The Greatest) Ali laat dink. Ali se ikoniese uitklophou van Charles L. (Sonny) Liston het in die eerste ronde van ’n geveg op 20 Mei in 1965 in Maine afgespeel.

Die omstredenheid van die vinnigste en vreemdste swaargewiggeveg in die geskiedenis duur vandag nog voort. Sommige verstomde toeskouers (diegene wat dit regstreeks gesien en die miljoene wat op TV gekyk het) het geskree “fixed” en “false”.

Dit was dan ook die reaksie van talle wat die gebeure in die binnenshuise sportsentrum op Walvisbaai op 13 Mei met ’n vergrootglas en van ’n afstand op sosiale media dopgehou het.

Van een ding is ek seker; Simon jr. het hom goed van sy taak gekwyt. Ek was daar en het dit voor my oë sien afspeel. Sy opponent het my egter effens laat twyfel.

Simon jr. se beroemde pa Harry (The Predator) Simon was ook langs die bokskryt en het sy seun luidrugtig aangemoedig.

“Slat hom plat, jy kan dit doen, ek weet jy kan,” het hy gebulder.

Net soos sy pa en gewese wêreldkampioen – met ’n boksrekord van 31 oorwinnings waarvan 23 uitklophoue was – is klein Harry ook ’n allemintige vegter. Sy rekord staan nou op 19 oorwinnings waarvan 13 met uitklophoue behaal is; die toekoms lyk belowend vir hom.

Ons almal weet sy pa het ’n barshou geboks en moes noodgewonge en onoorwonne sy bokshandskoene op ’n vroeë en ontydige stadium in sy loopbaan ophang.

Harry jr. se selfvertroue en boksvermoë is opvallend en dit lyk of hy beslis iets van boks by sy pa geërf het.

Ek wil bitter graag hê hy moet in sy pa se boksvoetspore volg en ’n pad na ’n wêreldtitel vir homself oopslaan. My wens vir hom is dat hy al sy kritici se monde sal snoer.

Na sy geveg Saterdagaand het Harry jr. laat weet hy sien kans vir die kampioenbokser Albinius (Danny Boy) Felesianu, wat die uitdaging met ope arms aanvaar het. Hier gaan die beste bokser beslis bly staan.

Ek wag en kyk in spanning.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer