Huldeblyk aan Jan Jordaan
PIET HEYNS SKRYF:
Jan Jordaan is op 10 Desember 1936 op die plaas Hochfield 112 naby Warmbad in die suide van Namibië gebore.
Hy gaan skool op Keetmanshoop en is die hoofseun in sy matriekjaar. Na die eksamens verby is, vra die skoolhoof vir Jan wat hy ná skool gaan doen en Jan antwoord dat hy sy pa se skape op die plaas gaan oppas. Die skoolhoof is ontsteld want hy het verwag dat die slim knaap mos verder moet gaan leer en hy onderneem om vir Jan ʼn beurs te kry, sodat hy op Stellenbosch verder kan studeer, maar op voorwaarde dat hy óf medies of ingenieurswese moet kies. Die skoolhoof kry die beurs en Jan besluit dit sal siviele ingenieurswese wees. En só begin sy loopbaan op die pad van waterwese.
STUDEER
Hy behaal grade in wetenskap en ingenieurswese (B.Sc., B.Ing.) binne die voorgeskrewe vyf jaar wat op sigself ’n prestasie was, omdat die Universiteit Stellenbosch hoë standaarde vir die ingenieurstudente stel.
Jan kry werk as assistant-ingenieur by die Departement van Waterwese in Suid-Afrika, maar word afgedeel na die Takkantoor van Waterwese in Windhoek, Suidwes-Afrika.
Hy begin werk in die Afdeling Konstruksie en raak betrokke by die bou van die Hardapdam in die Visrivier by Mariental. Die projek begin in 1961 en die dam word op 16 Maart 1963 ingewy. Hy doen waardevolle ondervinding op in konstruksiebestuur en dit plaas sy loopbaan op die pad na groot hoogtes in die departement.
LOOPBAAN
Hy ontmoet Engela Smith by ’n funksie van die kerkjeugaksie in Windhoek en hulle trou in 1962. Die huwelik word verryk deur Marnus en Tertius wat op Mariental gebore word en Lara wat in Windhoek gebore word nadat Jan verplaas is om as jong, opkomende ingenieur, toesig te hou oor die bou van die Von Bachdam naby Okahandja.
Mnr. Jordaan se loopbaan beweeg deur die range en hy word later bevorder tot assistent-hoofingenieur in beheer van die Afdeling Beplanning in die Direktoraat Ondersoeke en Navorsing. Hy kan beskou word as die vader van die meesterwaterplan wat in 1974 deur die Administrasie van Suidwes-Afrika goedgekeur was vir verdere ontwikkeling namate die ekonomie van die land groei en die wateraanvraag toeneem. Dit het gelei tot die bou van die Swakoppoortdam, die Omatakodam, en die Omatakokanaal as deel van die oostelike nasionale waterdraer om water vanaf die grondwaterbronne in die Karstgebied en later vanaf die Kavangorivier in te voer na die sentrale dele van Namibië. Die Oanobdam by Rehoboth en die Otjiverodam by Omitara was ook onder sy toesig as hoof van die Afdeling Beplanning beplan en later deur die Afdeling Konstrukie gebou. Die waterplan het ook voorsiening gemaak om water beskikbaar te stel vir die verwagte ontwikkeling in die sentraal-noorde en die sentrale weskus gebiede van die land, asook ’n groot klomp klein waterskemas in die komunale
gebiede.
WATERVOORSIENING
Jan Jordaan se visie en leierskap met die beplanning van watervoorsiening in Namibië het dit inderdaad moontlik gemaak om ten spyte van die heersende woestynklimaat verseker te wees dat sosoioëkonomiese groei volhoubaar kon plaasvind. Die basiese plan word steeds uitgevoer soos die wateraanvraag toeneem, maar ongelukkig het die bestaande infrastruktuur ná Namibië se onafhanklikwording nie meer genoeg aandag gekry nie.
In 1981 word Jan bevorder tot sekretaris van waterwese en 1984 aangestel as die ouditeur-generaal van Suidwes-Afrika.
UITTREDE
Hy tree in 1989 en af verhuis na Somerset-Wes in die Wes-Kaap in Suid-Afrika, maar hy verlang na die viswaters langs die Namibiese weskus en hy verhuis na ’n paar jaar na Hentiesbaai waar hy sy lewe geniet deur baie tyd langs die viswaters te bestee tot sy heengaan in November 2023.
Jan Jordaan was ’n baie besonderse mens en soos enige baas maar is, het hy sy stempel afgedruk om sy ondergeskiktes op die regte pad te hou. Die ingenieurs, wetenskaplikes en tegnici by waterwese het altyd met respek en bewondering na Jan verwys as “Baas Jan”.
Jan was ’n waardige heer, met onkreukbare integriteit, die toonbeeld van ’n leidinggewende professionele ingenieur en het werklik ’n besonderse bydrae gemaak om deur sy voorbeeld mense te inspireer om hul beste vir die watersake van die grootste dorsland in Suider-Afrika te gee.
Jan was die argitek van die meesterwaterplan wat in 1973 ter tafel gelê is om die visie en riglyne van watervoorsiening in Suidwes-Afrika/Namibië oor die volgende 30 jaar uit te spel. Die waterplan het ’n 30 jaar horison gehad, maar is elke 20 jaar hersien soos die verskille tussen die beraamde beplanning en die werklikheid in die praktyk bewys is en soms aangepas moes word.
BRING HULDE
Sy vernuf, kundigheid, insig en optrede as professionele ingenieur het ’n groot bydrae gemaak om ’n span jong ingenieurs op te lei sodat hulle eendag by hom kon oorneem om watervoorsiening in ’n ontwikkelende, waterarm land soos Namibië te verseker.
Mnr. Jordaan se personeel by die kantoor van die ouditeur-generaal het hom gerespekteer as ’n persoon met wysheid, integriteit en toewyding aan sy nuwe beroep. Hy het almal met respek behandel, leiding gegee waar nodig en kon mense motiveer om net hul beste te lewer sodat ’n akkurate jaarlikse verslag aan die parlement voorgelê kon word oor die besteding van die begroting.
Die personeel by waterwese en die ouditeur-generaal se kantoor gun mnr. Jordaan sy ewige rus, en bring hulde aan hom want hy het werklik ’n groot verskil gemaak deur elke span te motiveer om hul beste te lewer om die ontwikkeling van Namibië tot voordeel van sy mense te verseker.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie