Indrukke en raad van ’n toeris
CAREL WOLHUTER SKRYF:
Ek is gebore in Windhoek en het my kinderjare op Aranos deurgebring in die 1950’s, en het net goeie herinneringe aan daardie jare.
Nou bly ons in Pretoria, maar in die gees is ons gedurig in Namibië en kom dikwels daar. In April het ons en twee ouer vriende in Pretoria deur die diep Suide en suidweste van Namibië getoer. Ons het aangedoen by Grünau, Aussenkehr, Oranjemund, Lüderitz, die Naukluftberge en Sossusvlei.
Daarna het ons die steil Spreetshoogte-pas uitgery en weer af na die woestynvlakte met die skilderagtige Gamsbergpas; gevolg deur 12 dae in Swakopmund en toe het ons by die Spitzkoppe aangedoen op pad na ons vriende se plaas in die grasgroen Kalahari naby Aranos. Op pad terug na Suid-Afrika het ons die nuwe Neckartaldam naby Keetmanshoop gaan besigtig.
Hoekom skrywe ek hierdie brief?
Ons almal weet dat toerisme geweldig belangrik is vir die Namibiese ekonomie, en daarom kan die terugvoering van toeriste goeie pitkos wees vir die besluitnemers oor sake wat toerisme raak. Hierdie terugvoer van my is oorwegend positief, maar ek raak enkele negatiewe punte aan waaraan aandag behoort gegee te word.
Eers die positiewe terugvoering. Ons vriende kan nie uitgepraat raak oor hoe skoon die land is nie. Behalwe enkele plekke, het ons omtrent geen papiere, bottels, plastieksakke en ander items sien rondlê nie. So ’n kultuur van skoonhou begin heel bo en wentel dan af na alle ander regerings-, munisipale en ander vlakke.
Ook by die stilhouplekke langs paaie word gereeld skoongemaak. Daarom ons gelukwense aan president Hage Geingob en alle ministers, amptenare en munisipale strukture wat hierdie skoonhoukultuur in stand hou. Hou dit asseblief so, want dit is een van die belangrikste indrukke wat enige toeris van ’n land onthou. Namibië is waarskynlik een van die skoonste lande in Afrika!
Dieselfde geld vir die toestand van ons teerpaaie. Toe ons by Ariamsvlei die land binnekom, sê ek aan my vriend Albert Kloppers, kyk nou of jy enige slaggate sien. In drie weke se rondry, waarvan ongeveer 2 450 km op Namibiese teerpaaie, nie een enkele slaggat nie! Die uitsondering was suid van Keetmanshoop waar vloedskade aangerig was, maar dit word reeds herstel. Tien uit tien!
Ook die amper 2 000 km gruispaaie wat ons gery het, was oorwegend goed. Onlangse vloedskade naby Aussenkehr, Betta, Solitaire en die Gamsbergpas is ook reeds besig om herstel te word. Ek vertrou dat die padskraapprogram nooit verwaarloos sal word nie, want baie toeriste gaan besigtig die afgeleë, maar mooiste dele van ons land en ondersteun dan die lodges, gasteplase en ander oornagplekke op hierdie roetes.
Ook aan die Paaie-owerheid ons gelukwense. Ons is beïndruk met die vordering van die wêreldklaspad tussen Windhoek en Okahandja, en ook die werk tussen Mariental en Keetmanshoop om die nasionale pad breër te maak. Regtig welgedaan!
Baie geluk ook met die vriendelikheid van Namibië se mense. Dit is rêrig ’n riem onder die hart.
Dan enkele negatiewe belewenisse. Die toestand van die toilette by Duwisibkasteel en die puttoilette by Sossusvlei is treurig, en veral die oorsese dames het baie negatiewe kommentaar gehad. Sies NWR, julle kan gerus die standaard van huishouding by alle NWR oorde drasties verhoog. Julle steek sleg af by die privaatsektor, en tog het julle beheer oor van die wonderlikste toerismebestemmings in Namibië.
Ons sien ook uit na die ontsluiting van al die moontlikhede by die pragtige Neckertaldam, nie net die besproeiïngskema nie, maar ook toerismepotensiaal. Dalk die ideale geleentheid vir ’n handevatbelegging tussen die staat en die privaatsektor. Skraap net asseblief daardie 30 km vanaf die teerpad meer gereeld.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie