Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Jan, ek kan nie dans nie

Iréne-Mari van der Walt
Ek kan nie dans nie. Jy het die volste reg om my te oordeel, maar nie almal het die voorreg gehad om van kleins af te leer dans nie.

Vir lank het ek glad nie die begeerte gehad om te leer nie, maar deesdae dink ek anders oor die saak. Ek wil nou baie graag ’n mooi poppie met ’n vasdanslyfie wees. Ongelukkig dink ek ek het in hierdie stadium ’n lyfie wat meer by die kroeg aan die kantlyn van die dansvloer pas.

My penarie is ’n bietjie meer ingewikkeld, omdat die oplossing nie so eenvoudig is om die naaste Jannie te gryp en net te begin dans nie.

Buiten vir die feit dat dit ’n paar aande sal neem om die ritmiese geskoffel van my voete te bemeester (ek is bietjie stadig, as jy weet wat ek bedoel), en dat ’n aangename jong knaap sy aand sal moet prysgee, is die instruksies nog redelik onduidelik.Skoffel, maar moenie dit oordoen nie. Dans vinniger, nie só vinnig nie. Ontspan. . . nou raak jy weer té styf. Konsentreer!

Tydens ’n onlangse kuier kry ek dit ietwat reg. Ek is nogal heel in my skik met myself toe ek van die dansvloer afstap en vir ’n vriendin (my dansmaat se beter helfde) opgewonde vertel ek het dit reggekry.

Ek het die sleutel tot dié wêreld se geheime gevind en die deure na hierdie skatkamer oopgesluit. Die geheim, volgens my dansmaat, is om jou heupe effens te swaai. Goed so, kom ons raak dan nou maar swaaierig.

Toe ek egter my trotse oomblik met my vriendin deel, hoor ek dat haar geliefde nie eintlik te goed kan dans nie. Maar hemel, ek het dit nou net baasgeraak! Nou is ek sommer heel mismoedig – die instruksies onduidelik; vergeet ek nou maar van die heupeswaai-raad of hou ek maar nog by dit?

Op ’n missie om uit te vind, kry ek raad van alle kante af. Jy moet tydhou in jou heupe, jy moet tydhou in jou voete, jy moet tydhou in jou bobene. Uhm, waar kry ek horlosies vir liggaamsdele wat nie polse is nie?

Bo en behalwe vir tydhou, moet jou heupe soos jellie wees – ontspan net, verduidelik een knaap. Die volgende sê weer die heupe moet juis my postuur ondersteun, so dit moet níé ontspan níé.

Ek dink nou ek verstaan hoekom mense met mekaar trou nadat hulle mekaar die eerste keer op die dansvloer ontmoet het. As julle danspassies bymekaar pas, is julle beslis op dieselfde golflengte.

Nou het ek meer respek vir mense wat sê hulle het tog so lekker met hulle liefie gedans om hulle te vergeet. Ek dink nie ek sou ’n dans sonder die gestres oor watse liggaamsdele moet ontspan en watter moet styf wees kon vergeet nie.

Iemand se raad moet meer uitgebrei wees as net “tel net tot vier”. Ek kan tot vier tel, maar ek kan nie elke ou se gedagtes lees nie. Ek dink ek gaan ’n prentjie van die menslike anatomie saamvat as ek ’n dansgeleentheid bywoon; en wanneer iemand vra om te dans moet hulle eers ’n vraelys invul.

Jy weet, die basiese dinge. Heupe; op ’n skaal van een tot vyf – hoe swaaierig? Hoe ontspanne moet die bobene wees? Hoe skoffelrig moet die voete wees?

Dalk is die bou-’n-dansmaat-benadering die een wat my van hierdie kopkrapper sal verlos.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer