Karasburg se optogte
ROOI OLIFANT SKRYF:
Die onlangse politiekgedrewe protesoptogte op Karasburg is weer eens bewys van die mag van mag oor die dweepvolk Namibië.
Eerstens, slaag opponerende infiltreerders daarin om die klein massa van Karasburg met en deur leuens op te sweep deur die opmaak, verspreiding, herhaling en vergroting van infame leuens in die styl van hitleriaanse indoktrinering wat onkundige, liggelowige en maklik beïndrukbare Karasburgers, soos die arme orwelliaanse skape wat hulle is, agter ou verslete en stukkende Egiptiese potte aanblêr. Hul vlugtige aandag word daardeur maklik van die ware toedrag van sake weggelei, en hul bysiende oë verblind om nie die grootskaalse diewery van munisipale bronne reg onder hul neuse deur die infiltreerders, bloot te lê nie.
Naïewe Karasburgers word dus eerder laat glo, dat iets wat glad nie bestaan of gebeur het nie – die onwettige aanstelling van sleutelpersone in die munisipaliteit, wel plaasvind. Hierdie verskynsel staan bekend as die Mandela-effek waaraan arme niksvermoedende en maklik omkoopbare Karasburgers ly. Die tragiese hieraan, is dat hulle nou dinge beveg wat hulle glad nie begryp nie, soos ’n Swapo-oudstryder in haar dronkverdriet eenkeer gebieg en erken het: “Ons het nie geweet, hoekom en van wat ons vlug nie, maar vlug dié het ons.”
Tweedens, is die slaafse meedoening aan iets wat Karasburgers nie regtig verstaan nie, getuienis en simptoom van Stockholm-sindroom waaronder Namibiërs gebukkend gaan. Karasburgers verlang vuriglik na ou mishandeling, uitbuiting, uitsluiting, verarming en ontmagtiging deur hul eertydse mishandelaar wat hul minnaar geword het. Hulle ervaar ’n oedipale verlange na hul eertydse verkragter se fallus van verdrukking, wat geen maar geen visie van vooruitgang vir hul kudde geprioritiseer het nie. Dié infiltreer en smokkel nou weer met Karasburgers se koppe om tog na hul ou pyn en lyding terug te keer, want ou bekende seer is immers beter as ’n nuwe onbekende een? En soos sake nou daar uitsien, is die arme Karasburgse dweepmassatjie tog té gewillig om weer na die slagpale soos slagskape gelei te word, terwyl hul opstokers terugsit en gebeure rustig dophou soos hulle ontvou. Hulle smeek om ou bekende pyn en kan die nuwe uitkoms uit jarelange ellende wat die nuwe leierskap bied, nie gedoog nie. Intussen is die diewe nog veiliger met min kanse op enige vervolging.
Karasburgers het verslaaf en afhanklik geraak aan jarelange vrywillige stalinistiese verdrukking wat hulle van plaaslike regeerders ontvang het, en gee hulself nou meedoënloos, sonder min verset, oor in die versmorende kloue van hul ou heer en meester, wat nou wilde vloermoere deur hul onkundige en naïewe ondergeworpenes gooi, om verwarring te versprei met die hoop om die Stem van die Suide weer in te palm en hulle teen moontlike vervolging weens vergrype te immuniseer, maar sonder enige sukses, want dis net ’n kwessie van tyd voor die blêrende skape hul verleiers se ware intensies sal raaksien en hulle verskeur soos die skaap met die leeu in die bekende Kleurlinglegende gemaak het.
Dis nou tyd dat die skape van hul massa-geheueverlies en plaasdorpie-mentaliteit genees en begin saamblêr dat munisipale boeke oopgegooi word. Daar is hope werk vir ouditeurs, die polisie, die ACC, die ombudsman, die howe en tronkbase. Ons eis ons gesteelde nasionale bates terug. Ba-a-a! Blêr nou saam.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie