Koebaai aan 2022 se roetine
Die koerant se “moederfiguur” ook aan ons bekend as liewe Hettie het in gister se rubriek van 2022 se v-woorde geskryf en onder meer staan “vuisvoos” vir my uit.
Toe ek Maandagoggend by die werk instap, sê ek vir myself dit is darem nog net hierdie week wat ek mooi woordjies in mooi sinnetjies moet verpak, dan is dit vakansie. Maar helaas toe ek deur my dagboek gaan, sien ek daar is ’n taaklysie by volgende Maandag aangeteken. Dit voel sommer of my eie handskrif my verraai het.
Nou moet ons maar vuisvoos deur nóg ’n week gaan voor dit amptelik vakansie is. Het ek krag vir nog ’n week? As daar nie krag is om nog ’n week saam met die stroom te beweeg nie, waar sal ek dan die krag kry om teë te skop? Ja-nee, die enigste uitweg is om deur te druk.
Teen die tyd is my brein moeg gedink, my rug seer gesit en my vingers lam getik – verskoon maar die tikfoute as jy een vind.
Die probleem is dat ek nie goed met roetine is nie en ek het iewers in hierdie jaar die wonderlike idee gehad om soggens vyfuur op te staan.
Nou voor jy dink ek is mallerig, gaan ek dit sommer erken. Ek staan soggens vyfuur op om te gaan draf voor die dag amptelik met ’n stort afskop. Ná ’n ADHD-diagnose vroeg vanjaar het ek gevind ’n vinnige draf soggens – wanneer die wêreld nog stil is – is die beste manier om van die oortollige energie ontslae te raak en die dopamien aan die vloei te hou.
Ek weet egter al klaar dat ek volgende jaar in Januarie met ’n swaar hart my vyfuuralarm vir die eerste maand of twee gaan uitstel. En dít net mooi nadat ek so twee maande terug die tyd van vyfuur tot sesuur soggens ten volle begin waardeer het en lekker in my roetine ingeskakel het!
Moet my nie verkeerd verstaan nie; die Henties-kuiertjie saam met my familie is in hierdie stadium vir my soos die wortel wat voor my neus gehang word. Enige pogings wat ek in die komende twee weke gaan aanwend, is beslis met die strand ingedagte. Wat ek wel gaan mis, is dat ek myself kon flous met komplimente aan myself oor my selfdissipline.
Talle mense wend wel aan die begin van die jaar vurige pogings aan om hul Nuwejaarsvoornemens te laat realiseer, maar dit sal teen Valentynsdag waarskynlik net ’n gedagte wees.
Juis daarom hou ek nie daarvan om ’n lysie Nuwejaarsvoornemens vir mense te mompel as hulle vra nie. Ek belowe liefs niks aan myself nie, dan kan ek teen Oktober of November uiters trots wees op die feit dat ek darem vir ’n paar maande lank elke oggend om vyfuur my draftekkies aangetrek het. Ek maak liewer Oujaarvoornemens deur terug te kyk na hoe ek myself oor die afgelope jaar verbeter het.
Ten minste het ek die afgelope paar weke die kaloriëe vir my Desembervakansie kafgedraf, maar nou moet ek hoop ek sien kans om in die nuwe jaar te draf.
Dit help nie veel dat ek baie ander se Nuwejaarsvoorneme om te gaan draf ’n werklikheid gemaak het nie, net om dit nie volgende jaar te kan volhou nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie