No Image Caption

Kuisheid oor die lawaaiwater

ANONIEM SKRYF:

In die omgewing waarin ek grootgeword het, moes ons of julle wat iets gevat het, dit maar bo-kant die wind doen. Veral as jou pa ‘n ouderling of diaken was.

Om darem as wagter op sionsmure te staan en jou eie kind onder sensuur te plaas, moet seker die vernederendste ervaring vir sodanige ouer wees. Dis hoekom ons lig moes trap.

Maar die ergste is as jou pa ‘n dominee is, want dan was jy baie prominent in die gemeenskap se oë en as jy durf skeeftrap dan hoor jy van "predikant se kind maar hoe". Dan sal jy tot in die buitenste duisternis uitgewerp word. Ek sal my dus verbeel dat diesulkes spesiaal nougeset moes wees. Die woordjie "kuis" kom by my op.

So kom kuier die predikantseun en sy vrou en hulle vyfjarige dogtertjie eenkeer by die pastorie. Dit was nou werklik ‘n geseënde naweek. Almal het toegewyd meegedoen met die goeie werke in die kerk en in die huis.

Ou dominee en mevrou dominee was só trots op hulle seun en sy gesin, en die tyd het so vinnig verbygesnel dat toe hulle hul kom kry, was dit al weer tyd om afskeid te neem. Toe hulle hul oë oopmaak ná die dominee se smeekgebed vir reisgenade, sien hulle die koster het ook so stilweg by hulle aangesluit. Die een of ander ou sakie wat nou nie kon wag nie.

Die koster was ‘n uitsonderlike steunpilaar vir die pastoriepaar. En vir die gemeente ook, alhoewel almal nie so daaroor gedink het nie.

Sommige het gevoel dat hy sy amp ietwat oordryf. Hy sou byvoorbeeld, as die leraar die tien gebooie lees en hy kom by die gedeelte oor die begeerte van ‘n naaste se vrou, die verdagte (in sy oë) reguit in die oë kyk. Asof hy wil sê broer, jy moet aandag skenk,hierdie is nou spesiaal vir jou.

Of as die stukkie van "wyn is ‘n spotter en sterk drank ‘n lawaaimaker" opkom, sal die een wat gisteraand so luidrugtig vir mamma gevloek het ongemaklik rondskuif onder die koster se twee streng oë.

So ‘n man was hy. Reguit. Maar, soos elke mens maar is, het hy ook ‘n ou foutjie gehad. Skinder.

Mevrou dominee onthou skielik en sê wag ‘n bietjie, daar is iets wat ek julle wil saamgee vir die pad.

Nou moet ek iets hier verduidelik. Mevrou het die heerlikste gemmerbier gemaak en dit in gewone drankbottels in haar spens gebêre. Die etikette van drank soos Red Heart Rum, J&B Whisky en ander soorte is netjies afgehaal en die kruike sorgvuldig skoongemaak om die duiwelsreuke daaruit te verdryf.

En hier kom stap sy aan met ‘n bottel van die soort wat voorheen groot indruk op die dogtertjie gemaak het.

“Nee,” sak die kind af, “los daai bottel net hier. Weet oumie hoe lelik praat my pa as hy daai goed gedrink het?"

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!